Nuwe koshuisvoogde is vuur en vlam

Die koshuise, Die Duiker en Steenbok Herberg, het nuwe voogde verwelkom. Johan Scholtz (27) en Nadia Marais (25) sê hulle is opgewonde oor die uitdaging en sien uit om studente net so opgewonde te maak vir die jaar wat voorlê. Johan, nuwe voog van Steenbok, sê hy wil trots kweek by die studente en die koshuis verander in ’n huis vir elke manstudent. Sy visie vir die koshuis is om te sorg dat die studente ’n aangename, maar verantwoordelike studentelewe kan geniet. “Ek wil die studentelewe ophelder deur weeklikse aksies te hou.”

Johan Scholtz

Nadia, voog van Die Duiker, sê sý wil help om ’n sterk koshuiskultuur te ontwikkel om sodoende meer studente te lok. Die Duiker huisves tans 22 studente en Nadia gaan probeer om die koshuislewe vir alle studente opwindend te maak sodat almal wíl deelneem aan die aktiwiteite om sodoende ’n hegte eenheid te vorm. “Ek wil graag hê dat Die Duiker eendag bekend sal staan as die koshuis met studente wat help om die gemeenskap van Orania te bevorder.”

Nadia Marais

Die Duiker het ’n paar opwindende aksies wat voorlê, onder meer die film-aand wat in Augustus plaasvind, asook ‘n inbly-naweek in September wat opsy gesit is om studente wat hierdie jaar afstudeer, te groet. Die Duiker se inwoners is ook trots en opgewonde oor die ontwerp van ’n koshuis-kappiebaadjie wat eersdaags die lig gaan sien.

Johan en Nadia is ook betrokke by die blootstelling van studente aan verskeie BKO-strukture en dorpsaangeleenthede waar hulle meer leer oor leierskap, organisasievaardighede en gemeenskapswerk. Dissipline, netheid en stiptelikheid is enkele van die kernwaardes wat hierdie twee voogde by die studente wil tuisbring.

Ons sien uit daarna om die nuwe studenteverblyf wat tans in aanbou is, naamlik die Olienhout-ontwikkeling, volgende jaar bekend te stel. Dié koshuis gaan beskik oor drie kamers wat elk ‘n maksimum van vier studente kan huisves, ‘n oopplankombuis en ‘n leefarea. Ons is ook besig om ’n veldtog van stapel te stuur wat die gemeenskap ‘n geleentheid sal gee om voorstelle te maak rakende die nuwe koshuis se naam en gepaardgaande tradisies wat van toepassing sal wees op die nuwe studente wat by BKO kom studeer.

Koshuislewe is die hartklop van BKO. Ons hoop dat studente lewenslange vriendskappe hier sal sluit, onvergeetlike herinneringe sal maak en tradisies sal nalaat vir vele toekomstige  generasies.

Johan Klinck

Johan Klinck bring 37 jaar se kennis en ervaring na Bo-Karoo Opleiding (BKO) as departementshoof van Ambagte.

Na ses jaar by Denel Aviation en 31 jaar by die Motheo TVET College, in Bloemfontein, het Klinck die groot skuif na Bo-Karoo Opleiding gemaak.

“My droom vir BKO is dat ons ambagsmanne oplei wat hoog in aanvraag sal wees in die arbeidsmark,” sê Johan. Verder sien hy ook uit na die uitbou van die tegniese departement.

Johan beskryf homself as selfgemotiveerd, doelgedrewe, ’n spanspeler en toegewyd aan sy werk. Deel van sy planne vir BKO is om nuwe programme te implementeer wat nóú, asook in die toekoms, deur die arbeidsmark benodig word.

“By BKO dink ons toekomsgerig en ons is opgewonde oor die groei wat ons beleef. Ons het nog baie potensiaal en ontwikkel elke dag net verder,” sê Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO.

Johan het sy ambag deur Denel Aviation gedoen, waar hy as ’n radiomeganikus gekwalifiseer het. In dieselfde tyd het hy sy nasionale N-diploma by Kempton Park Tegniese Kollege verwerf, waarna hy sy hoӫr onderwys diploma deur die Universiteit van die Vrystaat gedoen het.

BKO sien uit na die groot bydrae wat Johan tot die organisasie gaan lewer.