MEDIAVERKLARING:Leer-My-Hoe-Proefplaasbekendstelling

Op 18 Oktober het Bo-Karoo Opleiding (BKO) ʼn groot tree in die rigting van volhoubare landbou-opleiding gegee, met die bekendstelling van die Leer-My-Hoe-Proefplaas.

Gehalte landbou-opleiding is in groot aanvraag in Suid-Afrika. Bo-Karoo Opleiding (BKO) is in die hartjie van ʼn diverse landbou-omgewing geleë, wat ons studente die geleentheid bied om aan verskeie landboupraktyke blootgestel te word.

Die kwalifikasie, Nasionale Diploma in Boerderybestuur, vereis dat studente praktiese kennis moet opdoen saam met die teoretiese kennis wat hulle in die klaskamer leer. Dit help om die leerproses beter te konsolideer en ʼn dieper begrip te bevorder. Daarom het BKO die noodsaak om ons eie proefplaas te ontwikkel begin aanspreek.

“Hoewel die boere in die area ons goedgesind is en ons studente toelaat om praktiese ervaring op hul plase op te doen, het ons niks gehad wat ons ons eie kon noem nie. Toe AfriForum vir ons ʼn tonnel geskenk het, het ons nie gras onder ons voete laat groei nie en dadelik ingespring om hierdie eerste tree in die ontwikkeling van ons eie proefplaas te gee. Met die hulp van heelwat spesialiste het ons navorsing begin doen om te verseker dat ons op die regte pad is,” sê Marcel Badenhorst-Nieuwoudt, een van die Boerderybestuur-lektore.

As eerste fase in die tonnel se ontwikkeling het die studente hul teoretiese kennis in gewaspraktyke getoets en toegepas. Tydens fase twee is studente se tegniese en siviele kennis getoets met die oprigting en herstel van die tonnelstruktuur. Vierhonderd tamatiesaailinge is onder drupbesproeiing geplant. Van volgende jaar af sal ander saailinge soos spinasie, pampoen, komkommer, ens. ook geplant word.

“Een groot dryfkrag agter die oprigting van die tonnel was die moontlikhede wat dit vir opleiding aan ons studente, asook die gemeenskap bied. Die volhoubare bedryf van hierdie tonnel kan toegang tot landbouprodukte nader aan ons gemeenskap bring. Daar is ook heelwat navorsing wat hier gedoen kan word. Ons is van plan om ons boerderybestuur-kwalifikasie verder uit te brei om spesialisasie op gebiede soos plant- en veekunde moontlik te maak, om studente sodoende verder toe te rus,” sê Paul Vogel, uitvoerende hoof van Bo-Karoo Opleiding.

Hierdie is een van vele treë wat BKO gee om volhoubare landbou-opleiding verder uit te brei. Volgende fasette sluit besproeiing, tegnologie, akkerbou, bemesting, landerye en lewende hawe in – alles met die groot doel om die Leer-My-Hoe-Proefplaas ten volle te benut en studente in staat te stel om met harde werk ʼn beter toekoms te bou.

Medianavrae:

Carla Loots

053 110 0620

carla@bokarooopleiding.co.za

Leer-My-Hoe-Proefplaas

Boerderybestuurstudente berei voor vir die funksie

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit

Boerderybestuurstudente en -lektore

Johan Klinck

Johan Klinck bring 37 jaar se kennis en ervaring na Bo-Karoo Opleiding (BKO) as departementshoof van Ambagte.

Na ses jaar by Denel Aviation en 31 jaar by die Motheo TVET College, in Bloemfontein, het Klinck die groot skuif na Bo-Karoo Opleiding gemaak.

“My droom vir BKO is dat ons ambagsmanne oplei wat hoog in aanvraag sal wees in die arbeidsmark,” sê Johan. Verder sien hy ook uit na die uitbou van die tegniese departement.

Johan beskryf homself as selfgemotiveerd, doelgedrewe, ’n spanspeler en toegewyd aan sy werk. Deel van sy planne vir BKO is om nuwe programme te implementeer wat nóú, asook in die toekoms, deur die arbeidsmark benodig word.

“By BKO dink ons toekomsgerig en ons is opgewonde oor die groei wat ons beleef. Ons het nog baie potensiaal en ontwikkel elke dag net verder,” sê Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO.

Johan het sy ambag deur Denel Aviation gedoen, waar hy as ’n radiomeganikus gekwalifiseer het. In dieselfde tyd het hy sy nasionale N-diploma by Kempton Park Tegniese Kollege verwerf, waarna hy sy hoӫr onderwys diploma deur die Universiteit van die Vrystaat gedoen het.

BKO sien uit na die groot bydrae wat Johan tot die organisasie gaan lewer.