Studieaansoeke vir 2025 is oop!

Studieaansoeke vir 2025 is oop!

Departement Gesondheid en Welstand

Lektor: Vroeë Kinderontwikkeling

Bo-Karoo Opleiding (BKO) is ʼn privaat beroepsopleidingsinstansie sonder winsoogmerk in Orania wat studente die ideale geleentheid bied om ʼn nasionaal geakkrediteerde kwalifikasie in ʼn veilige, gestruktureerde, landelike omgewing te verwerf. BKO fokus daarop om vryheid deur middel van gehalte-opleiding en arbeid moontlik te maak deur studente toe te rus om hulle tot roepingsgedrewe volwassenes te vorm wat die arbeidsmark met selfvertroue kan betree. Hierdie voltydse lektorpos is beskikbaar vir indiensneming vanaf Januarie 2025.

Die minimum vereistes om vir die pos in aanmerking te kom, is soos volg:

  • ʼn toepaslike BEd in Grondslagfase (gr. R-3) / BEd in Vroeë Kindersorg en Onderwys (0-4 jaar) of verwante kwalifikasie op NKR-vlak 5;
  • ’n goeie kennis van die MS Office-pakket;
  • minimum van vyf jaar werkservaring in die vroeë-kinderontwikkelingsbedryf, insluitend ervaring in opleiding op tersiêre vlak; en
  • verblyfreg in Orania.

Verantwoordelikhede sluit onder andere die volgende in:

  • die voorbereiding, beplanning en aanbieding van kurrikulum-belynde onderrig- en opleidingsessies;
  • die assessering van studente en algemene studente-administrasie;
  • die gehalte van lesplanne;
  • die implementering en voortbouing van vak- en assesseringsleêrs;
  • die hersiening en verbetering van vakke as vakkundige; en
  • werkplekskakeling om die plasing van studente in die bedryf te fasiliteer.

Vakke wat aangebied word en waarin die posbekleër bevoeg moet wees, sluit in:

  • Teoretiese Modules wat teorieë, programme om kinders te begelei, aktiewe opvoeding, mylpale vir die kind, gesondheid, veiligheid en welstand van die kind dek;
  • Praktiese Modules wat opvoedkundige aktiwiteite, aktiewe leer, verslae en vordering volgens ouderdom, verhoudige met ouers, gesondheid, veiligheid en welstand van die kind dek; en
  • Werkservaringmodules wat die opstel van leerprogramme, roetines en verslae, observasieprosesse, assessering, gesondheid, veiligheid, beskerming en welstand van die kind dek.

Die geskikte kandidaat moet oor die volgende vaardighede beskik:

Goeie verbale en geskrewe kommunikasievaardighede, uitstekende interpersoonlike vaardighede, die vermoë om onder druk te kan funksioneer en sperdatums te haal, dien as verdere vereistes. Jou toewyding aan die bereiking van doelwitte, jou vermoë om te analiseer en beplan, entoesiasme, motivering en bereidwilligheid om te leer, sal van jou ʼn aanwins in ons omgewing maak. Die suksesvolle kandidaat moet ook oor administratiewe vaardighede beskik.

Die suksesvolle kandidaat moet ten volle belyn wees met die waardes en werkswyse van die groter Solidariteit Beweging wat uit ʼn sterk morele, etiese en Christelike agtergrond voortspruit. Die suksesvolle kandidaat moet ook bereid wees om hom of haar volkome met die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap van Orania te vereenselwig. ʼn Sterk verbintenis met Orania se visie van selfstandigheid en selfwerksaamheid sal in die kandidaat se guns tel.

Indien jy aan dié profiel voldoen, stuur asseblief jou CV (geen sertifikate nie) voor of op 15 September 2024 per e-pos na Sumari Maartens by betrekkings@solidariteit.co.za.

Indien jy nie binne drie weke ná die sluitingsdatum terugvoer ontvang nie, kan jy aanvaar dat ander kandidate vir die pos oorweeg is.