TUISsorgassistent
Die ses maande lange Tuissorgassistent-kursus fokus op al die praktiese vaardighede wat jy nodig het om iemand met respek en deernis te help en te versorg.
Kwalifikasie
- Gedeeltelike kwalifikasie: Tuissorgassistent, NKR-vlak 2, 68 krediete, SAQA-ID: 104779
Toelatingvereistes
- Graad 9-sertifikaat
- 18 jaar en ouer
Modules
◊ Fundamentele beginsels van tuisversorging: etiese raamwerk waarbinne versorging plaasvind.
◊ Identifiseer en rapporteer probleme en behoeftes van pasiënte, hul gesinne en huishoudings.
◊ Fisiese versorging beplan deur die verpleegkundige soos pynbeheer, posisionering, mobilisasie, eerstehulp, ondersteuning tydens psigiese gesondheidsprobleme, versorging van kwesbare en bejaarde persone, uitvoering van basiese ondersoeke en toetse, en hulpverlening met wondversorging.
◊ Bemagtiging van pasiënte, hul gesinne en huishoudings deur middel van onderrig in fisiese versorging.
◊ Intreevlak noodhulp
◊ Werkservaring word in Orania se plaaslike ouetehuis en tydens tuisbesoeke in die gemeenskap opgedoen. Dit sluit die versorging van bejaardes, kwesbares, babas en kleuters, en gestremdes in.
◊ Werkservaring behels die versorging van tien pasiënte met uiteenlopende probleme oor ‘n periode van ten minste drie maande.
Opleidingsmodel
Die doel van hierdie kwalifikasie is om ’n student voor te berei om geregistreerde verpleegkundiges met die fisiese en emosionele versorging van pasiënte te help. Klasse word in Afrikaans aangebied, maar sekere studiemateriaal word slegs in Engels uitgereik.
Die Tuissorgassistent-kwalifikasie is ’n ses maande kursus wat uit drie komponente bestaan: teoretiese, praktiese vaardigheids- en werkservaringmodules. Die teoretiese komponent word deur ’n ervare, geregistreerde verpleegkundige in ’n moderne en toegeruste lesinglokaal aangebied. Praktiese vaardighede word in ‘n simulasielaboratorium geleer en ingeoefen, en deur middel van werkservaring verder verfyn. Die werkservaringmodules word in diens van die gemeenskap aangewend. Studente is verplig om alle kontaksessies, waartydens die lektor die voorgeskrewe teorie met hulle sal behandel, by te woon. Klasse begin 08:00 en kan met inbegrip van pouses en middagete tot 16:00 duur. Die werkservaringmodules word onder toesig van ervare personeel in Orania verrig.
Daar word van studente verwag om op ‘n deurlopende basis ‘n werksverklaring van die werk wat hulle verrig, by te hou. Die werksverklaring word gemodereer deur QCTO wat deur HWSETA geadministreer word, wat as bewys dien dat voorgeskrewe werkservaring opgedoen is. Aan die einde sal kwalifiserende studente ’n eksterne eksamen skryf. Indien hulle slaag, sal dit hul in staat stel om as tuissorgassistente onder toesig te praktiseer.
VIR WIE IS HIERDIE KURSUS?
Tuissorgassistente help mense met basiese fisiese versorging en gee emosionele ondersteuning. Daarom is die kursus vir tuissorgassisente ideaal vir ’n persoon wat ’n sterk roeping het om ander mense te help. Die tuisversorger is ’n toegewyde persoon met ’n deernis vir ander. ’n Belangstelling in mense en versorging is aan te beveel.
HOEKOM MOET JY TUISVERSORGING OORWEEG?
◊ Die aantal bejaardes, kinders en gestremdes wat tuisversorging benodig word al hoe meer. Die fokus val deesdae op die onafhanklike funksionering van bejaardes, om hulle so lank as moontlik selfversorgend en met waardigheid in die gemeenskap te laat bly. Daarom is daar al hoe meer werksgeleenthede vir tuissorgassistente.
◊ ’n Gekwalifiseerde tuissorgassistent kan by ’n versorgingsinstansie soos ’n ouetehuis gaan werk of sy/hy kan privaat versorging in mense se huise onder toesig van ’n geregistreerde verpleegkundige doen.
◊ Die Tuissorgassistent-kwalifikasie bied die geleentheid vir mense om hulself in ’n veld te bekwaam waarin hulle met waardigheid ’n kosbare diens kan lewer. Deur die Tuissorgassistent-kursus sal jy belangrike vaardighede leer wat tot voordeel van jouself, jou gesin en jou gemeenskap sal strek.
Die registrasiefooi vir
eerstejaars vir die jaar is R1 350.
Die totale studiekoste vir
eerstejaars vir die jaar is R11 500.
* Kosteverhogings geskied jaarliks
Die student se toelating tot BKO word bepaal deur vier faktore, nl.
- TOELATINGSVEREISTES
- REGISTRASIEFOOI
- TOELATINGSTOETS
- VERBLYFREG TOT ORANIA
Leer-My-Hoe Proefplaas vier eerste verjaarsdag
‘n Jaar het verbygevlieg vandat Bo-Karoo Opleiding hul heel eerste proefplaas, genaamd die Leer-My-Hoe Proefplaas, bekendgestel het. BKO se boerderybestuurstudente en -lektore het hard gewerk om die proefplaas op die voete en aan die gang te kry en die proefplaas is verlede jaar op 18 Oktober aan die dorp en publiek bekendgestel.
Steenwerk Vakmanuitdaging 2024 by Orania Karnaval – ‘n Suksesvolle Kompetisie!
Bo-Karoo Opleiding het weer die gewilde Steenwerk Vakmanuitdaging aangebied tydens die Orania Karnaval, en ons is trots om die talentvolle deelnemers en borge uit te lig. Vanjaar het 11 spanne, elk bestaande uit ‘n bouer en ‘n handlanger, mekaar die stryd aangesê. Ten spyte van die heerlike reën wat die karnaval verfris het, het dit nie die passie en kompeterende gees van die bouers geblus nie. Elke span het gebou volgens ‘n plan ontwerp deur Cornè Cawthorn van Ora Ligte Staal, met sand wat geborg is deur Wilco. Die prysgeld is 50/50 geborg deur die Orania Dorpsraad en Bo-Karoo Opleiding.
Nuwe Beroepskwalifikasie Model versterk Vaardighede by Bo-Karoo Opleiding
Bo-Karoo Opleiding (BKO) breek nuwe grond met die implementering van ‘n innoverende beroepskwalifikasie model vir studies met 2025 innames, wat die tradisionele vakleerlingskap vervang en daarop fokus om jong vakleerlinge toe te rus met noodsaaklike vaardighede wat aan moderne bedryfsvereistes voldoen.