Studieaansoeke vir 2025 is oop!

Studieaansoeke vir 2025 is oop!

Ek was deel van Bo-Karoo Opleiding!

Chané Barnard

“Bo-Karoo Opleiding het my die geleentheid gegee om buite my gemaksone te beweeg en as mens te groei,” sê Chané Barnard, ‘n trotse afgestudeerde van die Tuisversorging-kursus by Bo-Karoo Opleiding (BKO).

Chané, oorspronklik van Brandfort, het haar pad na sukses by Hoërskool Staatspresident Swart begin en in 2022 gematrikuleer. Haar besluit om by BKO in te skryf het gekom na deeglike navorsing en raad van haar skool. Die Tuisversorging-kursus het vir haar die perfekte geleentheid gebied om haar drome na te jaag.

“Ek het vinnig geleer dat BKO meer as net ‘n opleidingsinstansie is – dit is ‘n familie. Ons ondersteun mekaar, leer saam en groei saam.”

BKO se fokus op persoonlike ondersteuning het vir Chané van onskatbare waarde geword. Wanneer die uitdagings van die lewe en studies oorweldigend gevoel het, was daar altyd iemand om haar by te staan.

“Die studenteondersteuning by BKO is ongelooflik. Jy is nooit alleen nie – die sleutel is om hulp te vra en die bereidwilligheid te hê om gehelp te word.”

Praktiese ervaring was ‘n hoogtepunt van Chané se studies, en die blootstelling aan werksomgewings soos Karoosig Aftreeoord het haar selfvertroue en vaardighede versterk. Aan die einde van haar eerste jaar is sy selfs as primaria van haar koshuis aangestel, ‘n rol wat haar leierseienskappe verder ontwikkel het.

“Ek was opgewonde om nog ‘n jaar deel van die BKO-familie te wees. Dit het my geleer hoe belangrik verantwoordelikheid en leierskap is.”

Vandag werk Chané by Karoosig Aftreeoord en sy geniet elke oomblik daarvan. Haar drome vir die toekoms is groot – sy wil in die mediese veld spesialiseer en uiteindelik in pediatrie werk.

Aan voornemende studente gee sy hierdie raad:

“Jy gaan uitdagings ervaar, maar hou aan. Op die ou end sal jy terugkyk en besef jy was deel van iets groter. Daar is geen beter plek as Orania om hierdie reis te begin nie. Hier kry jy die kans om binne ‘n beskermde omgewing te groei en uitdagende dinge aan te pak.”

Chané is trots op haar BKO-erfenis en weet dat sy deel gehad het aan die grondslag waarop toekomstige studente gaan bou.

“Ek was deel – en jy kan ook wees!”