Studieaansoeke vir 2025 is oop!

Studieaansoeke vir 2025 is oop!

Jong entrepreneur verbreed sy kennisveld

Corné Cawthorn

By Bo-Karoo Opleiding sal ‘n jong entrepreneur ‘n ideale wegspringplek vind vir ‘n loopbaan as suksesvolle besigheidsman- of vrou.

Dít het Corné Cawthorn terdeë besef in die afgelope drie jaar van studies by Bo-Karoo Opleiding. Corné, afkomstig van Aliwal-Noord, is ‘n afgestudeerde Bou-en Siviele Konstruksie-student, en is tans besig met sy diploma in Siviele Ingenieurswese.

In 2022 het Corné se paaie met BKO gekruis toe hy en sy gesin Orania besoek het tydens hul soektog na studiemoontlikhede. Hulle het daar en dan besluit dat dit die plek is waar Corné se vorming as besigheidsman sal begin. Gedurende die volgende twee jaar het Corné hard gewerk en sy Bou- en Siviele konstruksie-kursus voltooi. Intussen het hy ook by een van die besighede in die dorp begin werk en sy praktiese ervaring opgebou.

“Ek wil graag eendag my eie besigheid hê,” vertel Corné opgewonde. “En daar is geen rede waarom ek nie nou al daaraan kan begin werk nie. Dit is dan ook een van die redes waarom ek besluit het om verder te studeer. Die Siviele Ingenieurswese-diploma by BKO stel my in staat om my plek as jong besigheidsman met selfvertroue in te neem.”

Die  diploma vereis grotendeels selfstudie, en dis so in sy kraal, aangesien Corné weet dat die verantwoordelikheid en dissipline wat  dit vereis  hom eendag in die besigheidswêreld van groot waarde gaan wees.  

Wanneer Corné nie besig is met sy studies nie, werk hy vir ‘n besigheid in die dorp waar hy baie praktiese ervaring opdoen en sy kennis verbreed. Om sy entrepreneuriese spiere in oefening te hou, bestuur hy  ‘n argitektoniese tekenaarsbesigheid in samewerking met ‘n plaaslike argitek.

“Dit is ‘n stokperdjie wat  ek al vanaf hoërskool beoefen,” sê Corné. “My pa is ‘n tekenaar, en ek het hom in vakansies met sy tekeninge gehelp. Net voor ek met my studies by BKO begin het, het ek my registrasienommer gekry om onder toesig vir kliënte te teken, wat ek tans nog volstoom mee besig is.”

Corne sien uit daarna om binnekort eksamen  te skryf, wat hom sal toelaat om sy eie argitektoniese planne sonder toesig as volwaardige tekenaar op te trek.

Waar dit by Corné se toekomsplanne kom, sien hy dat dit nou verbind is met Orania. Na meer as twee jaar as betrokke lid van die gemeenskap het Orania sy tuiste geword, en die plek waar hy sy drome wil bou. Orania se waardes, ideale en manier van dink het ook Corné se eie geword.

Die studentelewe by Bo-Karoo Opleiding het hom geleer dat, al kom elke student van ‘n verskillende deel van die land en vanuit ‘n ander agtergrond, almal nogsteeds saam sal staan sodra dit nodig is. Bo-Karoo Opleiding is menigmaal meer as ‘n opleidingsinstelling, dit is ook ‘n familie en ondersteuningsnetwerk.

Behalwe vir die studentelewe het die akademiese peil by  BKO vir Corné baie beteken.

“Ek is dankbaar dat BKO sorg  vir gehalte opleiding, hoë slaagsyfers vereis, en aktief  daaraan werk om nuwe studierigtings tot ons beskikking te  stel. Die Siviele Ingenieursdiploma is ‘n goeie voorbeeld  daarvan, en ek is hul baie dankbaar!” bevestig Corné.