BKO se beroepskwalifikasie as loodgieter bied meer as net die teorie in die handboek en hande vuil maak tydens die praktiese toepassing– dié kwalifikasie fokus op werksgereedheid en die bou van uitstekende vaardighede vir die wêreld van werk. Boonop bied die beroep verskeie moontlikhede!
Oorweeg jy ‘n kwalifikasie as loodgieter?
Moenie na ander se pype dans nie – hier is sewe redes waarom loodgieter-studies by BKO ’n puik loopbaankeuse is:
1. Almal het ’n loodgieter nodig! Loodgieters werk onder andere met pype, sanitêre installasies en verwarmingstelsels. Die verskaffing van skoon water en sanitasie is ‘n basiese diens, met ’n hoë aanvraag na gekwalifiseerde ambagslui om die nodige infrastruktuur in plek te kry. Elke huis, gebou en besigheid benodig sanitêre installasies! Die verval in die huidige infrastruktuur in ons land maak die instandhouding, herstelwerk en opgradering van die waterinfrastruktuur in basies elke dorp in die land, ’n krities noodsaaklike diens wat hoog in aanvraag is en sal bly.
2. Stabiele inkomstestroom en werksekuriteit: In ’n sukkelende ekonomie is werksekuriteit en ’n stabiele inkomstestroom vir enige jongmens ’n groot trekpleister. Die feit dat loodgieterdienste so hoog in aanvraag is, maak opgeleides se toekoms nog meer rooskleurig.
3. ‘n Legio moontlikhede: Loodgieters kan in verskeie areas spesialiseer. Solarwaterverhitting, industriële dienste en nog baie meer, bied verskeie moontlikhede. In ‘n ontwikkelende land soos Suid-Afrika is daar voortdurend nuwe ontwikkelingsprojekte op die horison. As loodgieter het jy ’n groot keuse in watter bedryf jy wil werk. Dink aan konstruksie-ondernemings, instandhoudingsmaatskappye en feitlik enige bedryf waaraan jy kan dink. Loodgieters kan werk in huise, kantoorgeboue, nywerhede, en ander omgewings, wat diversiteit in hul werk bied. Volgens Pieter Pieter Carel Knoetze, ‘n huidige BKO-student, geniet hy sy Loodgieter-studies by BKO juis omdat dit so dinamies is. “’n Loodgieter is in my opinie ’n legkaart bouer aangesien die beroep verskeie fasette het. Ons het tydens ons studies al blootstelling aan elektries, basiese sweis en steierwerk gekry. Hierdie blootstelling ontsluit verskeie moontlikhede vir my.”
4. Diensbaar in die gemeenskap: Loodgieters lewer ’n waardevolle diens in hul plaaslike gemeenskappe deur onder andere skoon water en goeie sanitasie te verseker. Voorspellings dui daarop dat die waterkrisis in Suid-Afrika oor die volgende paar jaar astronomiese gevolge gaan hê. Loodgieters gaan hier help en diep spore in hul plaaslike gemeenskap trap.
5. Moontlikheid van eie besigheid op die horison: Loodgieter is ’n ambag waar jy onafhanklik in jou ambag kan werk, maar deel van omtrent enige bouspan kan vorm. TJ van Eeden is ‘n tweedejaarstudent by BKO en geniet sy kwalifikasie terdeë. “Danksy die puik opleiding en ondersteuning van BKO, het ek my passie gevind. Die beste deel van die kwalifikasie is dat ek met my hande kan werk.” Ná afloop van TJ se studies wil hy graag die nodige ure onder die belt kry, netwerke bou en goeie ervaring opdoen sodat hy sy eie besigheid kan begin. TJ is in 2024 as BKO se “#JONG REUS-”wenner aangewys. Dit is ‘n vaardigheidskompetiesie tussen al die tegniese ambagstudente en die loodgieters het stof in die ander se oë opgeskop. Die stabiele inkomstestroom, groot aanvraag na dienste en wye verskeidenheid van opsies, maak ’n eie besigheid ’n baie aanloklike en moontlike opsie. Loodgieter studente het die eerste en derde pryse gewen)
6. Probleem-oplossing en analitiese denke: As jy daarvan hou om met jou hande te werk en met ‘n oplossing vir probleme vorendag te kom, dan is dié ambag vir jou. Die tegniese vaardighede wat jy tydens jou studies gaan aanleer gaan jou bekwaam om werklik die pype weer te laat werk.
7. BKO is die ideale keuse vir enige voornemende loodgieter-student. Volgens Danie Zietsman (lektor: loodgieter) bied BKO, as ’n geakkrediteerde instansie, opleiding van uitnemende gehalte, in ’n veilige omgewing, met ’n dinamiese studentelewe. “Die moderne fasiliteite en klein klasgroepe verseker persoonlike aandag, terwyl moedertaalonderrig leer makliker en meer doeltreffend maak.” Daarbenewens ontvang BKO-loodgieterstudente ook verrykende opleidingsgeleenthede wat hul help om met selfvertroue en ten volle toegerus hul loopbaan te begin.
So, waarvoor wag jy?!
Dié loodgieter-kwalifikasie by BKO is op NKR-vlak 4, duur ongeveer drie jaar en bestaan uit drie komponente, naamlik die teoretiese- en werksplekopleiding (18 maande) en die indiensopleidingsfase by ‘n goedgekeurde werkgewer (18 maande).
Wanneer jy by BKO kom studeer, kry jy nie net ’n kwalifikasie nie, jy kry geleenthede om jouself te onderskei. Skryf vandag nog vir 2026 in, besoek www.bko.co.za/loodgieter!