#JongReus2025: Bo-Karoo se reuse-doeners het weer uitgeblink!
Die tweede jaar van die #JongReus-kompetisie het nie teleurgestel nie!
Vanjaar was weer ʼn viering van harde werk, passie en trots by Bo-Karoo Opleiding. Solidariteit het vir die tweede agtereenvolgende jaar dié spesiale kompetisie aangebied – ʼn prettige, maar betekenisvolle manier om studente te bemagtig en hul toewyding aan hul ambag of landbouloopbaan te vier.
Waar kom die kompetisie vandaan?
Die #JongReus-kompetisie is gebore uit Solidariteit se droom om studente nie net akademies nie, maar ook as lewenslange doeners en leiers te ontwikkel. Die eerste kompetisie is in 2024 bekendgestel en het só ’n impak gemaak dat dit nou ’n vaste deel van Bo-Karoo Opleiding se kultuur geword het.
Waarom word dit aangebied?
Solidariteit glo dat trots in jou beroep en toewyding aan jou vak verder gevoer moet word as net die klaskamer. Deur hierdie kompetisie word studente erken, gemotiveer en ondersteun – nie net vir hul prestasies nie, maar vir hul gees, gesindheid en invloed op ander.
Dis ’n manier om vir studente te wys: “Ons sien jou. Ons waardeer jou. En jy het die potensiaal om iets groot te beteken.”
Wat behels die kompetisie?
Die kompetisie het oor drie hooffases gestrek:
- Nominasie-fase: Dosente, medestudente en selfs ouers kon van 17 Junie tot 4 Julie studente nomineer wat uitstaan – nie net in hul werk nie, maar ook in hul houding en betrokkenheid.
- Ambag- en landbouresies: Op 15 Julie het die genomineerdes aan verskeie uitdagings deelgeneem wat hul vaardighede, spanwerk en gees op die proef gestel het. Dis hier waar die BKO-gees werklik na vore gekom het!
- Top vyf & onderhoude: Die finaliste is gekies op grond van akademiese prestasie, hul deelname aan die resies en algemene gesindheid. Op 16 Julie is hulle onderhoude gevoer, en die wenner is daardie aand met groot trots by die #JongReus-braai aangekondig.
Wie is ʼn #JongReus?
ʼn JongReus is nie net iemand wat tegnies uitblink nie, maar iemand met ‘n vuur in hul are en ywer in hul oë. Dis daardie student wat nie huiwer om hande vuil te maak nie, wat ander inspireer en altyd ‘n ekstra myl gee – selfs wanneer dit moeilik gaan. Dít is presies wat vanjaar se deelnemers gewys het!
Waarom dit saak maak
Hierdie kompetisie gaan oor méér as net ʼn wenner – dit bou selfvertroue, moedig studente aan om trots te wees op hul werk, en versterk die kameraadskap tussen BKO-leerders.
Hier is die wenners van die #JongReus 2025 kompetisie!
🔧 Ambagsresies:
🥇 Franco van Staden – 2de jaar Loodgieter
🥈 Wynand Hugo – 2de jaar Bou & Siviel
🥉 Dillen Radyn – 1ste jaar Loodgieter
🌾 Landbouresies:
🥇 Alwyn Odendaal
🥈 Franco Fourie
🥉 Lisa Paulsen
’n Groot dankie aan elke deelnemer, ons toegewyde lektore, personeel en studente wat kom ondersteun het, borge en aan Solidariteit wat dit moontlik gemaak het. Die #JongReus is verseker veel meer as ’n kompetisie – dit is ’n viering van vaardighede!