BOERDERYBESTUUR
Hierdie nasionale diploma sal studente in staat stel om boerderybestuursfunksies en -produksiebesluite te verstaan, hoe om hulpbronne te benut, finansies te bestuur en landboubates te evalueer. Hulle word ook toegerus met praktiese kennis en vaardighede rakende plant- en veeproduksie asook basiese instandhouding in die Suid-Afrikaanse landbou-omgewing.
Kwalifikasie
- Nasionale N-diploma: Boerderybestuur en Meganisasie N4 – N6, NKR-vlak 6, 360 krediete
Toelatingvereistes
- Graad 12-kwalifikasie | NSS | N3-sertifikaat
- Graad 12 Wiskunde 40% | Wiskundige Geletterdheid 50% | Tegniese Wiskunde 40%
Modules
In hierdie leerarea leer jy, as voornemende boer, die basiese rekeningkundige beginsels wat jou in staat stel om begrotings op te stel, inligtingstelsels te ontleed en finansiële state, balansstate en inkomstestate te interpreteer
Hierdie leerarea fokus op die basiese rekenaarvaardighede soos van toepassing in Microsoft Word, Excel, Access en Power Point.
Hierdie leerarea bemagtig die student met vaardighede om basiese instandhouding op die plaas te doen. Dit sluit voertuigonderhoud, basiese sweistegnieke, bou- en elektriese installasies, sowel as gesondheids- en veiligheidsprosedures in.
Die funksies en verantwoordelikhede van alle rolspelers in die landbou, asook omgewingsfaktore wat landbou beïnvloed, word in dié leerarea behandel. Die opleiding fokus op die boer as entrepreneur en sluit die beplanning van die boerdery en die boedel, asook ‘n oorsig van die belangrikste aspekte van versekering wat op die boer van toepassing is, in.
Hierdie module was vantevore by die kurrikulum ingesluit in die vorm van addisionele nie-kredietdraende kursusse. Die kursusse is egter nou by die sillabus ingesluit en word as ‘n volwaardige N4, N5 en N6 aangebied. Daar word gekyk na grond- en plantkunde en lewende hawe, insluitend pluimvee-, skaap- en bokproduksie en beeste, om maar ‘n paar te noem.
Opleidingsmodel
Hierdie kwalifikasie is hoofsaaklik daarop gemik om aan die leerder tegniese, teoretiese, praktiese en werkplekkennis en vaardighede te gee wat in dié beroepsarea vereis word. Die ontwerp van hierdie kwalifikasie is sodanig dat dit leerders in staat stel om progressief die Nasionale N-diploma te verwerf sodra die vereiste werkservaringmodules voltooi is. Klasse word in Afrikaans aangebied, maar sekere studiemateriaal word slegs in Engels uitgereik.
Opleiding geskied aaneenlopend in drie fases, naamlik teoretiese-, praktiese vaardigheids- en werkservaringsmodules. Die teoretiese en praktiese opleiding geskied oor ’n tydperk van twee jaar en word in Orania afgelê. Binne die twee jaar word die eerste ses maande van die vereiste werkservaringtydperk afgelê. Studente is verplig om alle kontaksessies, waartydens die lektor die voorgeskrewe teorie met hulle sal behandel, by te woon. Klasse begin daagliks om 08:00 en kan met inbegrip van pouses en middagete tot 16:00 duur. Nadat die student gedurende hierdie tydperk al sy/haar N4-, N5- en N6-modules se eksamens suksesvol voltooi het, begin die laaste 12 maande se werkservaringtydperk.
Hierna dien die student hul volledige portefeulje van bewyse in sodat ‘n aansoek vir die diploma ingedien kan word.
POTENSIËLE WERKSGELEENTHEDE
NÁ VOLTOOIING VAN DIE KURSUS
POTENSIËLE WERKSGELEENTHEDE NÁ VOLTOOIING VAN DIE KURSUS
- Boer
- Plaasbestuurder
- Plaastoesighouer
- Landboubemarker
- Landbouprodukinspekteur
- Landbouprodukteverteenwoordiger
- Landbouvoorligter
Die registrasiefooi vir
eerstejaars vir die jaar is R2 700.
Die totale studiekoste vir
eerstejaars vir die jaar is R60 500.
* Kosteverhogings geskied jaarliks
Die student se toelating tot BKO word bepaal deur vier faktore, nl.
- TOELATINGSVEREISTES
- REGISTRASIEFOOI
- TOELATINGSTOETS
- VERBLYFREG TOT ORANIA
Leer-My-Hoe Proefplaas vier eerste verjaarsdag
‘n Jaar het verbygevlieg vandat Bo-Karoo Opleiding hul heel eerste proefplaas, genaamd die Leer-My-Hoe Proefplaas, bekendgestel het. BKO se boerderybestuurstudente en -lektore het hard gewerk om die proefplaas op die voete en aan die gang te kry en die proefplaas is verlede jaar op 18 Oktober aan die dorp en publiek bekendgestel.
Steenwerk Vakmanuitdaging 2024 by Orania Karnaval – ‘n Suksesvolle Kompetisie!
Bo-Karoo Opleiding het weer die gewilde Steenwerk Vakmanuitdaging aangebied tydens die Orania Karnaval, en ons is trots om die talentvolle deelnemers en borge uit te lig. Vanjaar het 11 spanne, elk bestaande uit ‘n bouer en ‘n handlanger, mekaar die stryd aangesê. Ten spyte van die heerlike reën wat die karnaval verfris het, het dit nie die passie en kompeterende gees van die bouers geblus nie. Elke span het gebou volgens ‘n plan ontwerp deur Cornè Cawthorn van Ora Ligte Staal, met sand wat geborg is deur Wilco. Die prysgeld is 50/50 geborg deur die Orania Dorpsraad en Bo-Karoo Opleiding.
Nuwe Beroepskwalifikasie Model versterk Vaardighede by Bo-Karoo Opleiding
Bo-Karoo Opleiding (BKO) breek nuwe grond met die implementering van ‘n innoverende beroepskwalifikasie model vir studies met 2025 innames, wat die tradisionele vakleerlingskap vervang en daarop fokus om jong vakleerlinge toe te rus met noodsaaklike vaardighede wat aan moderne bedryfsvereistes voldoen.