Mediaverklaring: 7 Oktober 2026
Bo-Karoo Opleiding (BKO) brei sy landbou-aanbod vir 2027 verder uit met die bekendstelling van die Hoër Beroepsertifikaat: Gemengde Gewas- en Veeboer, ’n nuwe praktiese kwalifikasie wat jongmense vir die werklikhede en geleenthede van moderne landbou wil toerus.
Die nuwe kwalifikasie beteken dat voornemende studente vanaf 2027 uit drie toegewyde landbou-studiepaaie by BKO kan kies. Die uitbreiding vorm deel van BKO se groter groeistrategie om sy programaanbod uit te brei en meer jongmense met skaars en noodsaaklike vaardighede vir die arbeidsmark toe te rus.
Die 197-kredietkwalifikasie op NKR-vlak 5 strek oor 18 maande en fokus op die geïntegreerde bestuur van gewas- en veeproduksie. Studente voltooi 12 maande se teoretiese en intensiewe praktiese opleiding, onder meer op BKO se 22 hektaar Leer-My-Hoe-Proefplaas, waarna ses maande se verpligte werkservaring in die landboubedryf volg.
Die program rus studente toe met vaardighede in onder meer produksiebeplanning, gewaskeuse, teling, volhoubare weiding, grond- en waterbestuur, geïntegreerde plaag- en siektebeheer, na-oeshantering, waardetoevoeging en agribesigheidsbeginsels. Na voltooiing van die vereiste opleiding en werkservaring lê studente die Eksterne Geïntegreerde Summatiewe Assessering (EISA) af.
Volgens Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO, gaan die nuwe kwalifikasie oor veel meer as bloot die toevoeging van nog ’n program.
“Landbou bly een van die belangrikste boustene van ’n volhoubare en voorspoedige gemeenskap. Ons wil jongmense met kennis toerus en hulle leer om verantwoordelikheid te neem, probleme prakties op te los en waarde te skep. Ons doel is dat ’n BKO-student ná sy opleiding gereed moet wees om sy plek in die landboubedryf vol te staan – hetsy as werknemer, bestuurder, entrepreneur of toekomstige boer.”
BKO se opleidingsmodel kombineer Afrikaanse moedertaalonderrig, praktiese beroepsopleiding en persoonlike vorming binne ’n veilige plattelandse omgewing in Orania. As ’n “kampus sonder mure” word studente deel van ’n aktiewe gemeenskap waar opleiding, werk, sport, kultuur en studentelewe met mekaar verweef is.
“Ons glo goeie beroepsopleiding vorm die volle mens. Daarom wil ons studente tegnies bekwaam en vorm wat hard kan werk, verantwoordelikheid aanvaar en vanuit ’n Christelike geloofsgrondslag diensbaar in hul gemeenskappe en die landboubedryf kan wees,” sê Vogel.
Veilige koshuisverblyf is beskikbaar en studente neem deel aan ’n groeiende studentelewe met sport-, sosiale en Afrikanerkultuuraktiwiteite.
Aansoeke vir die 2027-inname is reeds oop. Die program vereis ’n toepaslike NKR-vlak 4-kwalifikasie, met bepaalde landbou-, wetenskap- of handelsvakke as toelatingsmoontlikhede. Volledige toelatingsvereistes is op die webblad beskikbar.
Die kursusfooi vir die kwalifikasie beloop R84 500 met ‘n bykomende registrasiefooi van R5 000, terwyl rentevrye studielenings deur Solidariteit Helpende Hand aan kwalifiserende studente beskikbaar is.
Meer inligting hier: https://bko.co.za/gemengde-gewasse-en-veeboer/