Die hart van ‘n gemeenskap word geken aan die hande en voete wat bereid is om te dien, veral die weerlose oumense en siekes onder hulle.
Om mense te versorg is ‘n roeping. Nie net moet jy die hart hê om dit te doen nie, maar die nodige kennis en vaardighede is ook krities belangrik om seker te maak dat uitstekende sorg verleen word.
Bo-Karoo Opleiding (BKO) het om hierdie rede ‘n kursus in tuisversorging [Occupational Certificate: Home-Based Personal Care (SAQA 104792)] ontwikkel. Hiér word tuisversorgers opgelei om weerloses wat nie meer na hulself kan omsien nie uitstekend te versorg en om só ‘n volhoubare loopbaan as tuisgebaseerde versorger uit hierdie roeping te volg.
Met ’n toenemende vraag na tuisversorgers, veral in verouderende gemeenskappe, is daar geen beter tyd om hierdie roeping aan te pak nie. ’n Kwalifikasie in tuisversorging bied plaaslike en internasionale werksgeleenthede in hospitale, ouetehuise, aftreeoorde, pasiënte se huise, tuisversorgingsagentskappe en dagsorgsentrums. Jy kan ook werk as ’n kinderoppasser (au pair) kry. ’n Gekwalifiseerde tuisversorger kan verder ook kies om privaat versorging, onder toesig van ’n geregistreerde verpleegkundige, te doen.
Tuisgebaseerde versorgers verskaf sorg en ondersteuning – onder toesig – aan pasiënte en hul onmiddellike gesins-/huishoudingslede in die huis en in toepaslike gemeenskapsgebaseerde instellings. Deernis en respek vorm die basis van ‘n holistiese benadering wat die fisiese, emosionele, sosiale en geestelike aspekte van sorg insluit. So word vertroue met pasiënte en hul families gebou en skep die versorger ’n veilige en gemaklike omgewing waarin weerloses kan floreer.
BKO se Tuisversorger-kwalifikasie is ’n jaarkursus wat uit drie komponente bestaan: teorie, praktiese vaardigheid en werkservaring. Die teoretiese komponent word deur ’n ervare, geregistreerde verpleegkundige in ’n moderne en toegeruste lesinglokaal aangebied. Hierna word die teorie prakties in ‘n simulasielaboratorium toegepas en ingeoefen. Werkservaring verseker dat die praktiese vaardighede verfyn word en verseker ‘n goeie CV. Die werkservaringmodules word in diens van die Orania-gemeenskap, onder toesig van ervare personeel, aangewend. BKO het ’n 100% sukseskoers van studente wat na die suksesvolle voltooiing van die kursus vir werk in verpleging aansoek doen.
Doret Le Cornu is ‘n afgestuurde tuisversoringstudent wat die volgende ervaar het: “Die tuisversorgingskursus het my uit my gemaksone gehaal en my laat besef waartoe ek in staat is.”
Vir meer inligting oor hierdie en ander kwalifikasies, besoek gerus https://bko.co.za/tuisversorging/.