Studieaansoeke vir 2026 open 1 April 2025!

Studieaansoeke vir 2026 open 1 April 2025!

BKO-studente geïnspireer deur Afriforum Jeug se Jeugkongres

Agt studente van Bo-Karoo Opleiding het onlangs die Afriforum Jeug se Jeugkongres, by Udolpho Rivierplaas net buite Parys, bygewoon – ’n dinamiese platform wat jongmense inspireer om eienaarskap van hul toekoms te neem. Die kongres, wat fokus op die belangrikheid van jeugleierskap en verantwoordelikheid, het die studente bemagtig met waardevolle insigte en vaardighede.

Die tema van die kongres, “Jeugontwaking”, beklemtoon hoe die jeug ‘n kernrol speel in die bou van ’n hoopvolle, vreeslose toekoms vol geleenthede. Die kongresgangers is blootgestel aan sleutelvaardighede soos strategiese beplanning, effektiewe bemarking en die bestuur van begrotings – waardevolle lewenstegnieke wat hulle direk kan toepas in hul studies en projekte by BKO.

“Hierdie kongres het ons studente nie net toegerus met nuwe kennis nie, maar ook met vars energie en ’n hernude visie vir hul toekoms,” sê Marike Labuschagne, Hoof van Studentesake by BKO. “Hulle is opgewonde om wat hulle geleer het, in praktyk toe te pas en ’n positiewe bydrae te maak tot die ontwikkeling van ons instelling.”

Die studente het na Orania teruggekeur met ‘n hernude dryfkrag en ’n begeerte om ‘n daadwerklike verskil te maak – nie net by BKO nie, maar ook in ons gemeenskap en hul eie toekomstige loopbane. Hierdie ervaring dien as ‘n bewys van die belangrikheid van leierskapsontwikkeling en die groot potensiaal wat in die Afrikanerjeug opgesluit lê.