Studieaansoeke vir 2025 is oop!

Studieaansoeke vir 2025 is oop!

BKO-studente slaag vaktoetse met uitsonderlike resultate

By Bo-Karoo Opleiding (BKO) is ons ongelooflik trots op die prestasies van ons studente wat vanjaar hul vaktoetse voltooi het. Hierdie belangrike mylpaal is die laaste stap op pad na kwalifikasie as gekwalifiseerde ambagsmanne – en die uitslae spreek van toewyding, harde werk en gehalte opleiding.

Met ‘n 100% slaagsyfer vir 2024, het studente in drie rigtings hul vaktoetse suksesvol voltooi. Sestien elektriese studente, agt loodgieterstudente en vyf messelaars het hierdie uitdaging met selfvertroue aangepak en hul merk gemaak. Hierdie resultate bevestig nie net die gehalte van opleiding wat BKO bied nie, maar ook die toewyding van ons studente en hul lektore.

Om so ‘n sukses te behaal verg meer as net teorie; dit vra omvattende praktiese voorbereiding. By BKO gaan studente deur ‘n gestruktureerde proses wat hulle toerus vir die werklike werksplek en die streng vereistes van vaktoetse. Hul opleiding sluit uitgebreide praktiese werk in, wat by geregistreerde maatskappye voltooi word. Gedurende hierdie tydperk word logboeke bygehou wat gereeld nagegaan word. Verder kry studente twee weke intensiewe voorbereiding op kampus, gevolg deur twee dae van spesifieke toetsvoorbereiding by die vaktoetssentrum.

Die vaktoets self is ‘n uitdaging – ‘n toets van vaardigheid en aanpasbaarheid. Studente word gekonfronteer met onbekende omgewings en toerusting, wat ‘n mate van spanning meebring. Soos Johan Klinck, BKO se Departementshoof van Ambagte, dit stel: “Vaktoetse is ‘n baie groot oomblik in ‘n student se lewe. Dit bepaal of jy uiteindelik as ‘n gekwalifiseerde ambagsman erken word.”

Die sukses van ons studente beteken ook groot geleenthede vir hul toekoms. Baie van hulle kry dadelik werk, terwyl ander hul eie ondernemings begin. Sommige word selfs voormanne in gevestigde konstruksiemaatskappye – ‘n bewys van die hoë standaard wat BKO se opleiding handhaaf.

Vir ons as opleidingsinstansie is hierdie prestasies ‘n bewys dat ons op die regte pad is. Die harde werk van ons studente en lektore dra vrugte wat lewens verander. Elke suksesvolle student is ‘n herinnering aan ons missie om jongmense toe te rus met skaarsvaardighede en hulle voor te berei vir ‘n blink toekoms. Ons vier hierdie prestasies saam met ons studente en sien met opgewondenheid uit na wat hulle nog gaan bereik.