Studieaansoeke vir 2025 is oop!

Studieaansoeke vir 2025 is oop!

Bo-Karoo Opleiding stel nuwe uitvoerende hoof aan

Paul Kruger Vogel is vroeg in Januarie 2023 as die nuwe uitvoerende hoof van Bo-Karoo Opleiding aangestel.

Dr. Dirk Hermann, Solidariteit se bestuurshoof en direksielid van BKO, het die aankondiging gemaak en sê Vogel het ‘n sterk kombinasie van goeie toepaslike akademiese kwalifikasies, goeie en toepaslike praktiese ervaring en ‘n sterk en mooi karakter. Vogel het meer as 10 jaar se ondervinding binne die privaat hoëronderwysomgewing by organisies soos Aros, AfriForum en Akademia. Hy is al meer as agt jaar werksaam binne die Solidariteit Beweging waar hy vol ywer saam bou aan ‘n beter toekoms vir ons gemeenskap.

“Dit is ‘n voorreg om ‘n sterk hand in die tersiêre wêreld by Bo-Karoo Opleiding te verwelkom. Ek ken Paul Vogel al van die tyd wat hy bedryfshoof van Akademia was en hy het uitstekende werk gedoen. Ons sien uit om saam met Paul en sy sterk span BKO te bou,” voeg Hermann by.

Een van die belangrikste aspekte van werk vir Vogel is dat mens jouself ten volle, in geloof, met passie uitleef en dit wat jy doen terselfdertyd voluit geniet.

Volgens Vogel put hy energie uit opbou en om te sien hoe mense saam ‘n verskil maak in die lewens van jongmense. “So werk ons saam aan ‘n beter toekoms”.

“Hier by BKO het ons die geleentheid om vir studente ‘n vry en gesonde studentelewe te bied binne ons geloofs- en kultuur oortuigings wat jy op geen ander plek in die wêreld gaan kan ervaar nie. Daarmee saam om oplossings te bied vir studente wat graag hulself verder wil ontwikkel met gehalte opleiding,” sê hy verder.

Vogel gaan die jaar sterk fokus op die verdere uitbou van BKO in die vorm van nuwe fasiliteite wat gebou word, nuwe koshuise wat gevestig word, sterk en vry studente kultuur wat geskep word en daarmee saam verdere uitbreiding van ons aanbod vir verdere opleiding.

BKO spog vanjaar met 104 studente wat ingeskryf is in Boerderybestuur-, Tuisversorging-, Elektries-, Loodgieter- en Bou & Siviele Konstruksie-kwalifikasies. ‘n Sterk fokus op ‘n vry en veilige studentelewe met gesonde studente aktiwiteite binne drie gevestigde koshuise wag op die nuwe eerstejaars wat in Januarie begin met hul studies.

Vogel het reeds op 2 Januarie 2023 sy pos by Bo-Karoo opgeneem. Kontak Bo-Karoo Opleiding by 061 768 1852 of per e-pos by ontvangs@bokarooopleiding.co.za vir meer inligting.