Die loodgieterbedryf speel ’n kritieke rol in moderne samelewings, en die vraag na vaardige en gekwalifiseerde loodgieters bly groei. Dit is geen wonder dat dit as ‘n skaars vaardigheid beskou word nie! Indien jy ’n praktiese loopbaan, met goeie werksekerheid, oorweeg, is ’n beroepsertifikaat in loodgieterswerk ’n uitstekende keuse vir jou!
Loodgieterswerk bied nie net werksekerheid nie, maar ook die geleentheid om onafhanklik te werk of jou eie besigheid te begin. Dit is ’n beroep waar praktiese vaardighede hoog aangeslaan word en waar elke dag nuwe uitdagings en oplossings bring.
Hierdie beroepsertifikaat stel studente in staat om as loodgieter aan die behoeftes en uitdagings van die huidige loodgieterindustrie te voldoen. BKO se kwalifikasie is sorgvuldig ontwerp om jou toe te rus met die nodige kennis en praktiese vaardighede om effektief in verskeie omgewings te werk en die installering, instandhouding, toetsing en herstel van koue- en warmwatertoevoerstelsels, asook dreinering-, riool- en reënwaterstelsels suksesvol te kan doen.
Studente wat die kwalifikasie suksesvol voltooi sal ook oor die nodige vaardighede beskik om suksesvol in die bedryf te funksioneer en aan professionele standaarde te voldoen.
Die Beroepsertifikaat as Loodgieter is op ‘n NKR-vlak 4, bestaan uit 360 krediete met die SAQA ID 91782.
Opleiding geskied aaneenlopend oor ’n tydperk van 36 maande en bestaan uit drie fases wat mekaar afwissel, naamlik teoretiese-, praktiese vaardigheids- en werkservaringmodules.
Studente is verplig om altesaam 18 maande van teoretiese en praktiese werkswinkelkontaksessies in Orania by te woon. Gedurende hierdie tyd behandel die lektor die voorgeskrewe teorie met die studente, terwyl praktiese vaardighede ook intensief ontwikkel word.
Na afloop van hierdie fases in Orania, voltooi studente die oorblywende 18 maande deur werkservaringmodules landswyd by goedgekeurde loodgieters te verrig. Hierdie werkservaring is noodsaaklik om studente voor te berei vir die werklike eise van die bedryf.
Klasse word in Afrikaans aangebied, terwyl studiemateriaal in Engels uitgereik word, wat studente help om beide plaaslik en internasionaal aanpasbaar te wees.
Gedurende die laaste vier maande van die werkservaringstydperk kry studente die geleentheid om intensief vir hul vaktoets voor te berei. Sodra alle vereistes suksesvol nagekom is, begin die formele vaktoetsaansoekproses.
Toelatingsvereistes
Om vir die program te kwalifiseer, moet voornemende studente aan die volgende vereistes voldoen:
- ’n Graad 12-kwalifikasie
- Goeie fisiese gesondheid
As jy hou van praktiese werk, probleemoplossing en om met jou hande te werk, kan hierdie kwalifikasie die eerste stap wees na ’n lonende en volhoubare loopbaan.Vir meer inligting, besoek gerus Loodgieter – Bo-Karoo Opleiding