Studieaansoeke vir 2025 is oop!

Studieaansoeke vir 2025 is oop!

Jong werkende se hart lê in Orania

Mikyla Weideman

Mikyla Weideman, ’n plaasdogter van Daniëlskuil, glo haar toekoms sal altyd verweef bly met Orania – die plek wat haar die geleentheid gegee het om te groei en haarself te vind.

In 2023 was Mikyla op die punt om na Bloemfontein te verhuis om sielkunde te studeer. Haar ma het egter voorgestel dat sy na Orania toe kom om as tuisversorger opgelei te word. Binne ’n naweek het Mikyla aansoek gedoen, haar plek by Bo-Karoo Opleiding bevestig, haar verblyf gereël, haar sakke gepak en vertrek. Die volgende Maandag het sy in die klas ingestap en nooit weer teruggekyk nie.

“Ek was nog nie een dag spyt nie,” sê Mikyla. “My jaar by Bo-Karoo Opleiding was een van die lekkerste in my lewe. Ek het mense ontmoet wat op dieselfde manier as ek oor die lewe dink en voel. Terwyl ek in Bloemfontein net nog ’n nommer sou wees, kon ek hier in Orania my rol vervul en ’n verskil in die gemeenskap maak.”

Nadat sy haar studies voltooi het, het Mikyla ’n pos as versorger by Karoosig Aftreeoord in Orania gekry. Om met die bejaardes te werk bring groot vreugde vir haar, en haar kollegas is van haar grootste ondersteuners.

Mikyla is egter nie tevrede met net een werk nie. Om besig te bly en ’n ekstra inkomste te verdien op haar af dae, werk sy ook by ’n familiebesigheid, Melk en Heuning. Sy pas soms kinders op en maak steeds tyd vir haar ander belangstellings.

“Ek werk baie hard, maar dit gee my vervulling,” sê Mikyla. “Ons is gemaak om te werk. Iets wat vir my uitstaan in Orania is die gesindheid van moue oprol en self werk. Ek is 20, word 21, het twee vaste werke, ’n goeie salaris, en is deel van ’n gemeenskap wat vir my omgee. Die Here het my met ’n doel hier op Orania geplaas, want Hy het geweet dit is wat ek nodig het om tot hier te kom.”

Alhoewel Mikyla nog planne het om die wêreld vol te reis en vakansies oorsee te geniet, weet sy waar haar hart lê. Daarom sal sy altyd terugkeer na haar plek, haar mense, haar tuiste – Orania.