Studieaansoeke vir 2025 is oop!

Studieaansoeke vir 2025 is oop!

Leer-My-Hoe Proefplaas vier eerste verjaarsdag

‘n Jaar het verbygevlieg vandat Bo-Karoo Opleiding hul heel eerste proefplaas, genaamd die Leer-My-Hoe Proefplaas, bekendgestel het.


BKO se boerderybestuurstudente en -lektore het hard gewerk om die proefplaas op die been te bring en is op 18 Oktober 2023 aan die dorp en publiek bekendgestel.
Intussen het ‘n jaar verloop, ‘n jaar vol harde werk, genade van ons Hemelse Vader en drome wat waar geword het. Onder andere is ‘n tonnel self opgesit deur studente en personeel, waarin allerlei gewasse geplant en geoes is. Van hierdie gewasse sluit in beet, spinasie, wortels, blomkool, eiervrug en uie wat suksesvol geoes is. Die gewasse word, teen ‘n bilike prys, weer onder die gemeenskap verkoop en só word daar bygedra tot die dorp se voedselsekerheid.


Ter viering van ‘n suksesvolle jaar, het BKO hande gevat met Orania Dorpsraad en ‘n projek aangepak met die oog daarop om terug te gee aan die gemeenskap. Die landboustudente het elk vier boomsaadjies ontvang wat hul vir plant en versorg. Na verloop van ‘n jaar, word die boompies weer teruggee aan die Dorpsraad sodat dit in die gemeenskap geplant kan word as teken van selfwerksaamheid, vooruitgang en samewerking.


“Hierdie projek word ook as geleentheid vir die uitbreiding van kennis aangepak,” vertel Marcel Badenhorst-Nieuwoudt, Boerderybestuur-lektor. “Die studente moet tydens hierdie versorgingsjaar alle data opteken in verband met die boompies se ontkiemingstydperk, groei, omgewingsfaktore en so meer.”
Ons is trots op die harde werk en toewyding wat elke student aan die dag gelê het in die afgelope jaar om die Leer-My-Hoe Proefplaas op te bou!

Gaan na ons Facebook- en Instagram-blaaie vir foto’s van die geleentheid.