Studieaansoeke vir 2025 is oop!

Studieaansoeke vir 2025 is oop!

MEDIAVERKLARING – Rekordgetal studente vir 2025 by Bo-Karoo Opleiding verwag

Bo-Karoo Opleiding (BKO) in Orania, Noord-Kaap, verwag ’n rekordgetal studente vir 2025. Nuwe studenteverblyf word gebou, nuwe werkswinkels is vanjaar geopen en boonop spog BKO met ‘n splinternuwe kenteken. Nuwe senior personeel het ook by die dinamiese span aangesluit.

“Ons is gereed om ’n groot impak op die nuwe groep studente se lewens te maak,” sê Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO. “Ons is dankbaar oor die jaarlikse groei in studentegetalle en sien uit na die verwagte groei vir 2025.”

BKO is ’n opleidingsinstelling wat tans vyf nasionaal geakkrediteerde kwalifikasies aanbied. Dit sluit in boerderybestuur, bou- en siviele konstruksie, loodgieter, elektries en tuisversorging. By BKO verwerf studente nie net ’n kwalifikasie nie, maar word hulle tot roepinggedrewe volwassenes gevorm wat die arbeidsmark stewig gegrond in hul geloof en kultuur betree.

BKO verseker nie net goeie kwalifisasies en ervaring nie, daar word ook ’n sterk fokus op ’n gesonde studentelewe geplaas. In Orania kan studente vrylik en veilig student wees en op die kampus sonder mure rondbeweeg. Sodoende vorm hulle deel van die dorp en die gemeenskap. Die studentelewe floreer in die koshuise Duiker, Steenbok, Herberg en Vaalbos, waar studente kan woon. Studente in die dorp of wat van private verblyf gebruik maak kan ook by die daghuis, Heldehuis, aansluit om aan die studenteaktiwiteite deel te neem.

Verder geniet studente verskeie sportsoorte, kultuuraktiwiteite en leierskapontwikkeling, en leer ook oor diensbaarheid binne ‘n trotse Afrikanergemeenskap. Studente het ook toegang tot verskillende ondersteuningstrukture gedurende hul studieloopbaan. Hulle integreer ten volle met die Orania-gemeenskap en bou saam aan ’n volhoubare toekoms.

Aansoeke vir 2025 maak op 3 April 2024 oop. Deur aansoek te doen, neem jy jou eerste tree na ’n hoopvolle toekoms. Skep saam moed vir die toekoms deur by Bo-Karoo Opleiding te studeer. Besoek BKO se webblad by https://bko.co.za/ vir meer inligting en om aansoek te doen. Navrae kan aan 053 110 0620 gerig word, of stuur ’n e-pos na ontvangs@bko.co.za.

 

Mediakontak:

Carla Loots

053 110 0620

carla@bko.co.za