Studieaansoeke vir 2025 is oop!

Studieaansoeke vir 2025 is oop!

’n Dag in die lewe van ’n versorger

-Hierdie verhaal speel af in die Karoosig Aftreeoord, Orania-

In die aande klim Carina vroeg in die bed, al wil sy eintlik gaan kuier. Sy moet maar, want tannie Marie het haar môre nodig by die tehuis. So sy stel agt alarms vir die volgende oggend. Sy slaap deur sewe en skrik wakker met die laaste klanke van die agtste alarm.

Haar eerste stap is om die ketel aan te sit. Koffie is nou die prioriteit, en sy weet dis belangrik om iets te eet. Sy het al geleer dat dit nie lekker is om kos aan ander te gee terwyl jou eie maag grom nie. Haar hare word netjies vasgemaak en sy kyk vinnig in die lang spieël om seker te maak haar klere sit reg voordat sy uitstap.

Die beste deel van die oggend is die stap werk toe. Dis donker en stil in die dorp. Soos sy afstap, voel sy die eerste ligstrale op haar vel. Elke oggend is die sonopkoms besonders.

By die werk aangekom, is dit tyd vir oorname. Dis in hierdie tyd wat sy regtig wakker word. Sy help die ouer mense regkry vir ete – aantrek, hare kam, en hulle na die eetsaal neem.

Carina staan agter die kostafel in en skep kos vir die oues van dae terwyl sy hier en daar gesels. “Lekker geslaap, Tannie? Snork die Tannie nog, Oom?” Na ete neem sy die borde na die kombuis en help opruim.

Daarna trek sy die lêers nader en begin verslae skryf oor die dag se gebeure. Sy geniet dit, want dit is haar kans om die stories wat hulle die oggend vertel het, neer te skryf – wat elkeen gedoen en vertel het, hoe sy gehelp het, en wat elkeen se behoeftes is.

Dan is dit weer tyd vir bystand – sy het geleer om geduldig te wees, want die pas in die tehuis is anders as toe sy by die Oom se huis versorg het.

Soos middagete naderkom, raak die pas vinniger. Carina help waar sy kan, luister na stories, en staan by in die badkamer waarna sy haar middagete ook vinnig geniet. 

Deur die middag ondersteun sy en help sy soos sy kan, want die ouer mense het altyd ‘n versorger nodig wat omgee.

Die tafels word vir aandete gedek, kos word uitgedeel, en skottelgoed word gewas. Daar word tussenin gesels.

Aan die einde van die dag skryf sy weer die stories van die dag neer. Die dag eindig met ‘n sonsondergang en ‘n vervulde hart vol stories.