Studieaansoeke vir 2025 is oop!

Studieaansoeke vir 2025 is oop!

Pieter Scholtz: Van stofpadkind tot suksesvolle besigheidseienaar

Daar is geen kortpaaie na sukses nie. Dit verg harde werk en deursettingsvermoë, en beteken dikwels dat jy onder moet begin en boontoe bou. Pieter Scholtz, ‘n oudstudent van Bo-Karoo Opleiding (BKO) en tans ‘n suksesvolle besigheidseienaar, het hierdie waarhede vroeg in sy lewe besef.

Oorspronklik ‘n stofpadkind van die plaas Wonderput, het Pieter sy skoolloopbaan in Orania begin en daar voltooi. Nadat hy in 2019 gematrikuleer het, het sy liefde om met sy hande te werk hom na BKO gelei, waar hy in 2021 as Loodgieter-eerstejaar sy studies begin het.

“Ek het besluit om by Bo-Karoo Opleiding te studeer omdat ek geweet het dat hulle my met die nodige vaardighede vir die werksplek sal toerus. BKO is ook bekend vir hul goeie dissipline,” vertel Pieter. Hy het spesifiek vir Loodgieter gekies omdat hy daarvan hou om netjies en presies te werk – eienskappe wat noodsaaklik is in sy vakgebied.

Tydens sy studies het Pieter die waarde van BKO se ligging besef. “Orania is ‘n dorp wat eksponensieel groei, wat beteken dat daar baie werkgeleenthede en plek vir nuwe besighede is,” sê hy. “As jy ‘n hardwerkende, innoverende persoon is wat trots is op wat jy doen, kan jy hier suksesvol wees.”

Terwyl hy nog besig was met sy studies, het Pieter in 2022 sy entrepreneurskapsvaardighede aan die dag gelê deur sy eie besigheid, Scholtz Loodgieters, te begin. Die waardes van netheid en kwaliteit wat hy by BKO geleer het, het hom gehelp om hoë standaarde in sy dienslewering te handhaaf. “Die Loodgieter-kursus was baie prakties en toepaslik vir die werksplek,” vertel Pieter. “Ek het die studentelewe ook baie geniet. Die balans tussen harde werk en ontspanning saam met my medestudente het ‘n gesonde omgewing geskep.”

Volgens Danie Zietsman, BKO se Loodgieter-lektor, is Pieter ‘n uitstaande voorbeeld van wat ‘n BKO-student kan bereik. “Pieter het nie net die nodige vaardighede en kennis ontwikkel nie, maar hy het ook die moed en toewyding getoon om sy eie besigheid te begin. Dit is presies die tipe leerders wat ons wil inspireer – individue wat hul passie volg en bereid is om hard te werk om hul drome te verwesenlik.”

Pieter se toekomsplanne sluit die uitbreiding van sy besigheid en die bereiking van nuwe hoogtes in. Sy topprioriteit bly om kwaliteit diens aan sy kliënte te lewer.

Bo-Karoo Opleiding se Loodgieter-kwalifikasie stel studente in staat om aan die behoeftes en uitdagings van die huidige loodgietersindustrie te voldoen. Dit voorsien hulle met die nodige kennis en vaardighede om in verskeie omgewings koue- en warmwatertoevoerstelsels, dreinering, riool- en reënwaterstelsels te installeer, te onderhou, te toets en te herstel. Basiese vaardighede soos bouwerk en projekbestuur word ook aangeleer.

Pieter se raad aan voornemende Loodgieter-studente is: “Wees lief vir jou werk en wees trots op elke verbetering. Moenie bang wees om onder te begin nie, want deur ‘n stewige fondasie te lê, kan jy met harde werk jou pad na sukses bou.”