Vuil handjies, helder klei, kraai van die lag, bak en brou en poppekas – welkom in die vroeë kinderontwikkelingklas! Dié “klaskamer” van die 0-5 jariges is dalk gevul met sprokies en speel-speel leer, maar hiér word boustene vir die toekoms sorgvuldig en met baie liefde gelê.
BKO se Vroeë Kinderontwikkelingskwalifikasie is op ‘n NKR-vlak 4 en lei studente uitstekend op om vroeë kinderontwikkeling aktiwiteite voor te berei en beplan, leer te fasiliteer en te bemiddel en kinders se vordering waar te neem. Tydens die teoretiese-, praktiese- en indiensopleidingsfase van die student, word daar oor leer in ’n inklusiewe, speelgebaseerde omgewing besin om die holistiese ontwikkeling van kinders (van konsepsie tot skoolgaande ouderdom) te ondersteun.
Volgens Annerie Loots (lektor in vroeë kinderontwikkeling by BKO) is hierdie ’n uitstekende kwalifikasie vir iemand wat ’n liefde en ’n passie het om met kinders te werk. “Nie alle beroepe bied die vervulling om daagliks met ’n jong kindjie te werk en sy/haar lewe te verander nie.”
Aspekte wat vir die duur van die kwalifikasie gedek word, sluit in:
· Bekendstelling aan die Vroeë Kinderontwikkeling sektor, insluitend die administratiewe afdeling daarvan.
· Teorieë en perspektiewe rakende die jong kind se ontwikkeling (baba- tot kleuter stadium).
· Beplanning en programontwikkeling in die kleuterskool.
· Fasilitering van aktiewe leer in ’n klaskamer.
· Observering en assesering in die kleuterskool.
· Bevordering van gesondheid, veiligheid en welstand van die jong kind in die kleuterskool.
Studente sal na die suksesvolle voltooiing van die kwalifikasie as ’n bekwame baba- en kleuterjuffrou hul skoene in ’n kleuterskool (in ’n sentrumgebaseerde of nie-sentrumgebaseerde omgewing) kan vol staan. Die moontlikheid om self ’n eie kleuterskool oop te maak wink ook binne bereik van die studente wat dit wil doen.
Volgens Loots bied die kwalifikasie ’n goeie fondasie en voorbereiding vir ’n onderwyskwalifikasie, veral omdat die kursus alle fasette in die ontwikkeling van die jong kind dek en breedvoerig bespreek. Aangesien die student ná afloop van die voltooiing van dié kwalifikasie oor ’n NKR vlak 4-kwalifikasie beskik, kan ’n onderwysgraad die volgende stop op die student se studiereis wees.
“Wanneer jy ’n kind leer, verander jy ’n lewe. Wanneer jy ’n lewe verander, vorm jy die wêreld.” Kom bou ’n beter toekoms, kom studeer Vroeë Kinderontwikkeling by BKO!
Vir meer inligting, besoek gerus www.bko.co.za