Annalene Booyens, afgestudeerde Elektries-student by Bo-Karoo Opleiding wat tans besig is met haar diploma in Siviele Ingenieurswese, beskou haar reis by BKO as ‘n wonderlike geleentheid om te help bou aan ‘n gemeenskap en ‘n hoopvolle toekoms. Voor sy haar tuiste in Orania gevind het, het Annalene in Bloemfontein gewoon en grootgeword, waar sy by Hoërskool Sand du Plessis gematrikuleer het. In 2022 het sy na Orania getrek om haar studies by BKO te begin.
Sy vertel dat die oorgang na ‘n nuwe dorp en omgewing nogal uitdagend was: “Dit was die eerste keer weg van my tuisdorp. Alles was nuut en onbekend, en dit het ‘n tydjie gevat om my voete te vind.” Tussen haar studies en werk het sy egter geleer om tuis te voel in Orania.
Nou, in 2024, is Annalene besig met haar diploma in Siviele Ingenieurswese terwyl sy steeds in die elektriese veld werk. Haar behoefte om haar kennis te verbreed het haar gemotiveer om die volgende stap in haar opleiding te neem. “Die Siviele Ingenieurswese-kursus leer my elke dag iets interessants en nuuts,” sê sy, en voeg by dat sy alreeds hierdie kennis in haar praktiese werk gebruik het. Sy werk ook vir ‘n elektriese besigheid in die dorp, waar haar opgedane vaardighede ‘n groot voordeel is.
Annalene droom daarvan om eendag haar eie besigheid te begin, een wat elektriese en siviele ingenieursdienste kombineer, en sy is voluit gemotiveer om hard te werk. “Ek wil graag voor vat, verantwoordelikheid vat – ek wil hard werk!”
Haar geloof speel ook ‘n groot rol in haar lewe: “God het my Orania toe gebring, en ek dink Hy het nog vir ‘n hele rukkie ‘n roeping vir my hier by BKO.”
Aan voornemende Siviele Ingenieurswese-studente gee sy die raad om bereid te wees om hard te werk, veral in uitdagende tye. Sy het al geleer om vas te byt en deur te druk, want die uiteindelike beloning is groot. Sy prys ook die ondersteuning van haar lektore: “Die lektore is altyd daar vir ons – altyd bereid om te help!”
Annalene geniet haar tyd by BKO, veral die herinneringe wat sy gemaak het tydens vlotbou-geleenthede, vlugbal na die laaste klasblok, en bowenal die waardevolle vriendskappe wat sy opgebou het.