Die terrein is voorberei deur eerstejaar Bou- en Siviele Konstruksie-studente wat met entoesiasme kruiwaens vol sand en gereedskap rondgeskuif het. Orania Dorpsraad het logistieke bystand gebied, Wilco het die boumateriaal geskenk, BKO-lektor Reinhardt Coetzee het die tekening vir die uitdaging opgetrek in ‘n kombinasie van verskillende stene in ‘n Vlaamse verband, vier lae hoog.
Met troffels in die hand en onder aanmoediging van toeskouers het die spanne hul beste bou pogings gelewer. En natuurlik was daar humor in die lug – “die winkelhak is jou vriend, gebruik dit!” was een van die dag se opmerkings.
Toe “tyd!” geroep word, het die spanne hul laaste afwerking gedoen en weggestaan. Jacques en Zachary wat onderskeidelik ‘n eerste- en tweedejaar Landbou-student is, het ook deelgeneem. Makwas, soos Zachary bekend staan op kampus, het na afloop van die uitdaging gesê dat hy defnitief nie ‘n bouer is nie, maar dit baie vermaak verskaf het vir die skare! Die beoordelaars – Reinhardt Coetzee, Dewald Otto van Otto Siviele Bou Dienste, Gerhard Strauss van BPP Konstruksie en Rob McBeath, Orania se Bou Inspekteur – het die bouwerk streng maar regverdig geëvalueer.
Die pryse was indrukwekkend: 1ste plek Ф1 500, 2de plek Ф1 000, 3de plek Ф500 in Ora (Orania se geldeenheid), plus vier Basiese Messelwerk Kortkursusse. Baie geluk aan Rohann Pieter, Danie van der Berg, Julius Miller en Pierre Buys. In ’n mooi gebaar het Danie sy kursus aan Dylon Kruger geskenk – ’n daad wat tot wat groot waardering gelei het.
Top 3 spanne
3de: Edrick van Zyl & Julius Miller (BKO)
2de: Danie van der Berg & Dylon Kruger
1ste: Joe van Niekerk & Rohann Pieter (BPP Konstruksie)
Edrick en Julius is tans ingeskryf vir die Bou- en Siviele Konstruksie en Siviele Ingenieurswese Diploma kursusse. Joe, van die wenspan is ’n derdejaar Bou- en Siviele Konstruksie-student wat tans op praktiese werkervaring by BPP Konstruksie werk, waarna hy sal terugkeer vir sy vaktoetsvoorbereiding en op suksesvolle voltooiing sy rooiseël Messelaar-kwalifikasie verkry.
BKO bedank Orania Dorpsraad, Wilco, en BPP Konstruksie vir kontant pryse, boumateriaal skenkings en borgskappe van kortkursusse en klerasie vir die wenspan. Soos tipies in Orania, is die terrein ná afloop van die kompetisie skoongemaak, stene herwin en toerusting skoongewas – asof niks ooit daar gebou is nie. Die gebruik van ’n bousand, kalk en water mengsel beteken dat die stene weer hergebruik kan word – prakties, netjies en volhoubaar.
By BKO glo ons dat opleiding nie net oor kennis gaan nie, maar oor vaardigheid, trots en samewerking. Die Bou-uitdaging wys dit jaar na jaar.