Bo-Karoo Opleiding (BKO) staan bekend as ’n baken van kennis en geleentheid. Die instelling stuur studente die wêreld in as onafhanklike en selfstandige ambassadeurs van Orania. Onder hulle skitter Evantie van Zyl, ’n bekwame alumna, as ’n hardwerkende en gemotiveerde voorbeeld van wat ’n student by dié instelling kan vermag.
Evantie was ’n Tuisversorgingstudent by BKO wat in 2022 haar sertifikaat ontvang het. Sy is tans by die Western Cape College of Nursing (WCCN) ingeskryf waar sy besig is om haar kursus in Algemene Verpleging te voltooi.
Een van BKO se kenmerke is die toewyding om hardwerkendheid te koester. Die instelling bied geleenthede aan die student om hulle drome en passies uit te leef. Bo-Karoo Opleiding glo daarin om terug te gee aan die gemeenskap en Evantie het BKO se geleenthede met albei hande aangegryp en ’n verskil gemaak by Karoosig Aftreeoord, waar sy vir ’n jaar en ’n half gewerk het.
By een van haar lektore, Karin Bain, wat vir haar ’n groot inspirasie was, het sy ook baie lewenslesse geleer wat sy altyd sal koester en onthou. “Sy het my geïnspireer om sterker in my geloof te staan en om dit deel van my loopbaan te maak.”
Nadat Evantie haar sertifikaat ontvang het, het sy die BKO-gees saam met haar geneem om van elke uitdaging ’n sukses te maak. Haar reis sover as alumna is niks minder as merkwaardig nie. Sy het haar vinnig gevestig as iemand wat haar belange opsy skuif om ander mense se belange op die hart te dra. Evantie sien daarna uit om haar Algemene Verpleging kursus by die Western Cape College of Nursing in 2025 te voltooi en ’n verskil in mense se lewens te maak.
Evantie se reis tot dusver kan getuig van die opleiding van hoë gehalte waarmee BKO hul studente toerus. Die instelling bied die nodige geleenthede en opleiding om te verseker dat die toekoms ’n plek is om na uit te sien. Haar storie is ’n bewys van die krag van onderwys wanneer dit gekombineer word met passie, innovasie en ’n verbintenis om ’n verskil te maak.
Aangesien Evantie voortgaan om merwaardige mylpale te bereik en haar vakgebied te beïnvloed, bly sy ’n inspirasie vir die huidige én toekomstige BKO-student. BKO sien daarna uit om alles neer te pen wat Evantie nog gaan bereik en bemeester. BKO wens jou alle sterkte toe.