Stel jy belang om meer te weet?

Studieaansoeke vir 2026 is oop!

Bespreek 'n kampustoer

Opedag 2026

Stel jy belang om meer te weet?

Studieaansoeke vir 2026 is oop!

Bespreek 'n kampustoer

Opedag 2026

BKO is ses!

Hiep-hiep hoera, BKO verjaar! Op 2 Mei het BKO sy sesde verjaarsdag saam met die jaarlikse opedag gevier. Vandat die instansie in 2019 gestig is, is hy lankal nie meer ‘n peuter nie, nee hy staan sterk op sy eie bene, reg om met elke tree ‘n blink toekoms voor te berei! Wat kan werklik binne ses jaar gebeur? BAIE! Met agt gehalte kwalifikasies, 24 personeellede, 205 studente en verskeie planne in sy agtersak, lê daar ‘n hoopvolle toekoms vir elke student op die horison voor!

Wat is jou wens vir BKO? Ses mense naby aan BKO deel hul gelukwense!

Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO: Een van my beste verjaarsdagherinneringe was toe ek ses jaar oud was en ‘n “rugby-” verjaarsdag gehad het. Opgewondenheid wat weke vooraf begin het, individuele lekkergoedboksies, rooi koeldrank, springmielieballe, bal skop en presente was alles deel van die lekker! Dan vir die staan rondom die koek en die kersies uitblaas! Ek en my maats se grootste bekommernis/uitdaging op dié dag was wie die eerste stukkie van die rugbybalkoek gaan kry. Dit was goeie onskuldige tye en sonder dat ek dit besef het, was ek hoopvol oor die toekoms. Vandag vier ons BKO se sesde verjaarsdag en staan daar 205 studente, 24 personeellede en oor die honderd alumni figuurlik saam met ons rondom die koek om die kersies dood te blaas. Wat ‘n voorreg!

As daar een ding is wat ek in my tyd by BKO keer op keer gesien het, dan is dit dat ons hier  uitdagings in geleenthede omskep. ‘n Vaste geloof fondasie, opleiding in skaars vaardighede, ‘n veilige omgewing en gesonde studenteaktiwiteite is alles boustene wat ‘n hoopvolle toekoms binne ‘n kultuurgemeenskap bou. Ons kyk dankbaar terug na die afgelope jare se groei en ontwikkeling wat by BKO plaasgevind het. Ons is net so opgewonde oor beplande uitbreidings, nuwe programme, werkswinkels, koshuise en vele meer.

Al is ek nou ‘n bietjie ouer as die seuntjie met die rugbypartytjie, is ek steeds net so hoopvol oor die toekoms. Aan almal wat help bou, ondersteun en saam droom- groot dank en baie geluk BKO!

Dirk Herman, BKO-direksielid:  BKO is ‘n trotste instelling wat studente op ‘n uitnemende wyse toerus om te kan werk. BKO kan met vyf woorde beskryf word: vry, veilig, gehalte, geborge en Afrikaans. Die uniekheid van Orania maak dat studente ware studentevryheid kan geniet. Dis iets wat al so ver weg van meeste mense is dat hul nie eers bewus is van die verlies daarvan nie. Die Orania-gemeenskap is ‘n veilige gemeenskap. Studentelewe in ‘n veilige omgewing is ongekend. Gehalte opleiding is ononderhandelbaar. Sonder gehalte is al die ander woorde leeg. By BKO beleef die studente geborgenheid. Die eerste en belangrikste stuk geborgenheid is uit BKO se Christelike grondslag. Die tweede stuk geborgenheid is in die BKO-gemeenskap, maar ook die groter kulturele gemeenskap. Laastens, maar nie die minste is dit Afrikaans. Afrikaanse onderrig is ook gehalte onderrig, want dit is in jou moedertaal. Dit gaan egter ook gepaard met waardeoordrag in en uit Afrikaans. Vry, veilig, gehalte, gebore en Afrikaans. Dit kan jy net by BKO kry. Ek is opgewonde oor BKO, en elke student se toekoms. Op die volgende ses jaar!

Hencko Vollgraaff, SR-Voorsitter: Ek dink BKO het ‘n blink toekoms wat voorlê, die planne wat agter die skerms afspeel gaan nog baie studente die geleentheid bied om goeie onderrig in ‘n veilige omgewing te kan kry. Soos wat BKO se slagspreuk so mooi beskryf, kry ons vryheid deur opleiding en arbeid. Deur harde werk in te sit skep jy ‘n goeie en vrye toekoms vir jouself en jou nageslag. Baie geluk BKO, wat ‘n voorreg!

Hanlie Pieters, bemarkingsbestuurder: My tyd by BKO gaan nie oor my nie – dit gaan oor die span waarvan ek deel is. Elke personeellid dra by tot die groter prentjie van kultuurbehoud, vaardigheidsontwikkeling en die uitbou van ons geloofsgemeenskap. As bemarkingsbestuurder is ek net een stem tussen vele, maar dis ’n voorreg om saam met so toegewyde span te werk aan iets wat regtig saak maak. BKO is die boodskapper van hoop en in ’n wêreld waar baie jong Afrikaners onseker is oor hul toekoms, help ek die storie van BKO oordra – dis hier waar Christelike geloof, kultuur, identiteit, taal en waardes nie bedreig word nie, maar versterk word. Hiep-hiep hoera!

Nerina Meiring, akademiese hoof: BKO is net die beste. Daar is soveel energie, want elke dag begin ons met iets nuuts wat ons uitbou! Mag ons die genade en ywer ontvang om elke dag in die volgende jaar so voort te gaan!

Petrozette De La Querre, akademiese administrasie beampte: Deur die loop van BKO se bestaan het ek die geleentheid gehad om te sien hoe BKO groei tot waar ons vandag is. Dit is wonderlik om te sien hoe die studente ontwikkel en deel word van die unieke kultuur wat hier gebou word terwyl hul hulself in Orania vestig en by BKO studeer.

Ek sien baie uit na verdere uitbreiding en die verdieping van BKO kultuur. Baie geluk!

Die toekoms lyk blink, en hoopvol!