Stel jy belang om meer te weet?

Bespreek 'n kampustoer

Koshuisverblyf vir 2027

Skryf in

Stel jy belang om meer te weet?

Skryf in

BKO se verhaal wen die vlotoptog by Orania Karnaval

BKO het vanjaar se vlotoptog by Orania Karnaval gewen met ’n vlot wat diep in die skatkis van bekende verhale gaan delf het.

Met die tema “Ons verhale” het BKO besluit om van die verhale wat oor geslagte heen deel geword het van ons verbeelding, gesprekke en herinneringe, saam te bring in een kleurvolle vertelling.

Want verhale doen meer as om ons te vermaak. Hulle laat ons lag en huil, laat ons groei en droom, en herinner ons daaraan dat elkeen van ons besig is om sy eie verhaal te skryf.

Die BKO-vlot het daarom verskillende karakters en verhale saamgevoeg – elkeen met sy eie betekenis.

FA Venter se landreeks herinner aan die groter verhaal van ’n volk en die erns van die stryd om as Afrikanervolk te oorleef. Dit is ’n verhaal wat ons herinner aan die Genade van Bo en aan die krag van mense wat saamstaan.

By Kringe in ’n bos word die persoonlike stryd van die mens en die kringloop van die lewe verbeeld deur die verhaal van Saul en Oupoot.

Trompie en die Boksombende bring weer die onskuldige kattekwaad, kreatiwiteit, pret en ervarings van grootword na vore – ’n herinnering dat karakters mekaar vorm en dat yster yster slyp.

Dan is daar Brakenjan, die klein hondjie met ’n groot hart van durf en daad, wat bereid is om enigiets aan te pak vir sy land én sy skone dame.

Liewe Heksie verteenwoordig kinderlike opregtheid, haar vrees vir die gevreesde gifappeltjies en haar lojale liefde vir die mense om haar.

En natuurlik is daar Haas Das, wat altyd probeer om op hoogte te bly van wat rondom hom gebeur en die kennis wat hy het, ten goede gebruik.

Die Wielie Walie-span bring die boodskap van ontspanning, lag, leer en luister – want stories is immers deel van die lewe.

Ons skryf almal ons eie verhaal

Die vlot is egter meer as net ’n versameling bekende karakters. Dit vertel ook iets van BKO self.

By BKO skryf elke student en personeellid elke dag aan sy of haar eie verhaal. Elke klas, elke uitdaging, elke prestasie, elke geselligheid en elke nuwe ervaring word deel van die groter verhaal van ’n gemeenskap.

Ons lag. Ons huil. Ons groei. Ons droom.

En tussen die alledaagse oomblikke word daar aan iets groter gebou: ’n verhaal wat betekenis het en waarde vir die volgende geslagte kan hê.

Dit is uiteindelik die boodskap waarmee BKO se vlot deur die strate van Orania beweeg het: elkeen het ’n storie, elkeen is deel van ’n groter verhaal, en ons skryf dit saam.

Die wen van die vlotoptog was ’n besonderse hoogtepunt en ’n trotse oomblik vir elke BKO-student en personeellid wat met kreatiwiteit, harde werk en baie entoesiasme aan die vlot beplan en gebou het.

Loer gerus na die video hier: https://youtube.com/shorts/xoMAEhXtwbg?feature=share