Bo-Karoo Opleiding verwelkom met groot dankbaarheid vir Karin Bain terug as Lektor: Tuisversorging in ons Departement Gesondheid en Welstand.
Karin is geen onbekende by BKO nie. Sy was reeds voltyds deel van die span van 2021 tot 2023, en het in 2024–2025 steeds deeltyds betrokke gebly. Haar pad bring haar nou weer voluit terug na ’n plek waar haar roeping, ervaring en hart vir mense duidelik sigbaar is.
Karin beskik oor ’n stewige akademiese grondslag met ’n B.Cur-graad in Verpleegkunde van PU vir CHO, asook verdere studies in verpleegonderwys en verpleegbestuur deur UNISA. Haar beroepsreis sluit uitgebreide ervaring in Intensiewe Sorg Eenhede regoor Gauteng, Vrystaat en Limpopo in, asook praktiese begeleiding van verpleegkundestudente.
As Lektor: Tuisversorging speel Karin ’n sleutelrol in die uitbreiding van die Departement Gesondheid en Welstand, met die ontwikkeling van nuwe kursusse en leergeleenthede. Sy is ook die lektor vir die Tuissorgassistent-program, waar haar praktiese kennis en mensgerigte benadering studente voorberei vir die werklikheid van sorg.
Karin bring ’n diep roeping tot diens, ’n liefde vir jongmense en ’n sterk geloof daarin om mense toe te rus met vaardighede wat in die alledaagse lewe toegepas kan word. Haar droom is om programme te help bou wat gesinne en gemeenskappe versterk deur praktiese kennis van gesondheid, tuisversorging en voorkomende sorg.
Sy sien uit daarna om deel te wees van ’n beginselvaste organisasie wat aanhou groei, en om saam met ’n span te werk wat passievol is oor vaardighede, opleiding en opvoeding. Haar visie vir BKO is helder: dat dit die eerste keuse sal wees vir jongmense wat wil weet wie hulle is, waar hulle vandaan kom, en hoe om met hulle hande en harte ’n verskil te maak.
Ons is dankbaar dat Karin weer deel is van die BKO-familie en sien met verwagting uit na die waardevolle bydrae wat sy gaan lewer.
Welkom terug, Karin.