Huiskomitee van Heldehuis
Heldehuis logo
Heldehuis-skild onthulling
Ons het op 7 Junie 2023 ons eerste daghuis, Heldehuis, amptelik bekendgestel en die Heldehuis-skild onthul. Heldehuis is geskep om studente wat gebruik maak van private behuising buite BKO die geleentheid te bied om steeds deel te neem aan die opwindende studentelewe. Volgens Marike Labuschagne, hoof van studentesake, is ‘n gebalanseerde studentelewe van kardinale belang in die vorming van studente se identiteit- en karaktervorming.
“Dit was ʼn strategiese besluit, om aan dorpstudente nog meer blootstelling te gee aan ons studentekultuur. Aangesien ons koshuise se tradisies en waardes al goed gevestig is, was dit die volgende stap om ook ʼn daghuisopsie bekend te stel. Uiteindelik is die oogmerk dat elkeen wat aan BKO studeer ook aan ʼn volgepakte studentekultuur te kan deelneem.” meen Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO.
Identiteit is ’n essensiële aspek van ons menswees. Deur ’n sterk identiteit te hê, vind ons betekenis en rigting in ons lewens. Heldehuis bied aan elke student die geleentheid om sy of haar eie identiteit te ontdek en boonop te omhels. Volgens Paul Vogel is ons karakter die samestelling van ons waardes, integriteit en morele kompas. Dit bepaal hoe ons optree en reageer op uitdagings. By Heldehuis wil ons ’n omgewing skep waarin elke student se karakter gevorm en versterk kan word.
’n Gesonde studentelewe gee ook vir student ruimte om tradisies te kweek en te vestig wat dan deel vorm van die betrokke koshuis, en BKO as geheel, se studentekultuur. In Heldehuis sal nuwe tradisies gevestig word wat die studente kan koester en voortbring. Heldehuis is ‘n verteenwoordiging van die studentekultuur hier in Orania.
Ons moedig die viering van geloofs- en kulturele aktiwiteite aan, asook die behoud en bevordering van tradisies, taal en kuns. Deur Heldehuis te omhels, omhels ons ons voorgangers se erfenis, ontdek ons ons eie unieke identiteite, vier ons gemeenskaplike tradisies, bou ons sterk karakter en vier ons ons ryk kultuur en erfenis. Mag Heldehuis ’n tuiste wees vir almal wat hierdie koshuis se waardes deel en strewe na groei en sukses.
Heldehuis bied ook die geleentheid vir studente wat aanlyn vanuit Orania studeer by ander instansies om ook deel te word van die studentefamilie. Kom geniet die nuwe tradisies en aksies vir studente deur studente en bou saam aan ‘n beter toekoms vir ons en ons nageslag.
Kontak ons gerus by 053 110 0620 op per e-pos by ontvangs@bokarooopleiding.co.za indien jy belangstel om deel te word van dié studentegemeenskap.