Stel jy belang om meer te weet?

Skryf in

Bespreek 'n kampustoer

Opedag 2026

Stel jy belang om meer te weet?

Skryf in

Bespreek 'n kampustoer

Opedag 2026

Is ‘n elektriese kwalifikasie vir jou bedoel?

Jy hou daarvan om aan elektriese toestelle, soos die broodrooster, te karring, en
geniet dit om oor die elektrisiën se skouer te loer wanneer daar herstelwerk aan
elektriese sisteme gedoen word. Die installering van beheersisteme en
omskakelings na onder andere solarstelsels laat jou tone sommer omkrul. Jy
vermoed dit al ‘n rukkie, maar jy oorweeg ‘n loopbaan as elektrisiën!

Elektrisiëns installeer, onderhou en herstel elektriese krag– , beligting-, en
beheersisteme asook infrastruktuur in huise, besighede en fabrieke. Hulle is in feitlik
enige tipe fasiliteit of nywerheid regoor die wêreld werksaam! Die beroep fokus op
die verstaan en toepassing van gevorderde elektriese, elektroniese en PLC
beginsels.

Toets jouself aan die hand van die volgende eienskappe om te bepaal of jy het
wat dit vat om in hierdie top ambag te floreer:

      • Sterk karakter: ’n Goeie elektrisiën het integriteit en respek vir mense, veiligheid,
        standaarde/regulasies en wetgewing. Hy weet dat sy werk ’n weerspieëling van
        sy werkstrots, verantwoordelikheid en veilige werksbeginsels is. Betroubaarheid
        is ‘n kernwaarde wat die elektrisiën se werk onderstreep aangesien mense se
        lewens in sy hande is. Die woorde “kortpad vat” is nie deel van sy woordeskat
        nie.

      • Stiptelikheid en akkuraatheid: ‘n Elektrisiën se kliënte en/of werkgewers moet
        kan staatmaak op sy woord. Hy is stiptelik, haal sperdatums en werk volgens
        spesifikasies. Die akkurate uitvoer daarvan is ononderhandelbaar, want
        akkuraatheid verseker veiligheid, voorkom konkelwerk en toekomstige probleme
        en verseker voldoening aan die SANS10142-1-regulasies. Dit is krities belangrik
        om noukeurig en met ‘n oog vir detail na koppelings en drade te kyk om
        kortsluitings, oorlading en risiko’s te vermy. Kennis oor veiligheidsregulasies en –
        beginsels, die korrekte gebruik van PPE en die vermoë om gevaarlike situasies
        te identifiseer, kan die verskil tussen lewe en dood beteken.

      • Foutsporing is jou kos: Kry jy ‘n adrenalien versnelling as jy, ná ure se soek,
        eindelik kan agterkom wat met ‘n toestel skort en dit dan regmaak? Goeie
        foutspoorvaardighede vorm die basis van ‘n elektrisiën se vaardighede.
        Kombineer dit met uitstekende tegniese kennis en jy kan seker wees dat daar
        gereeld op jou knoppie vir dienste gedruk gaan word.

      • Die moderne weergawe van Thomas Eddison: ’n Selfgedrewe vakman bly ‘n
        lewenslange student! Dit beteken ook dat sy vaardighede altyd hoog in aanvraag
        sal bly omdat tegnologiese vooruitgang en die industriële revolusie hom nie gaan
        vervang nie, maar eerder aanspoor om nog beter te doen. Hy soek oplossings en
        sien uitdagings/probleme as geleenthede om te groei. Die moderne Suid-
        Afrikaanse elektrisiën moet nuwe tegnologie integreer in sy kundigheid en op
        hoogte bly van tegnologiese vordering en nuwe toerusting. Hernubare energie en
        slimstelsels (smart-tegnologie) is besig om die industrie teen ‘n snelle pas te verander                                                                                                                        en hy sal daarby moet aanpas. Innoverende denke en die bereidwilligheid om te leer sal                                                                                                                         verseker dat hy relevant in sy vakgebied bly.

      • Trots op uitstekende dienslewering en goeie kommunikasie: Goeie
        dienslewering is ’n integrale komponent van sy kundigheid as ’n tegniese
        persoon. Dit beteken ook om ten alle tye professioneel en hoflik met kliënte en
        kollegas te kommunikeer, op ’n manier wat verstaanbaar vir die oningeligte
        persoon sal wees. Hy sal die kliënt op hoogte hou van vordering/verandering en
        dit kommunikeer op ’n manier wat vertroue bewerkstellig.

      • Fisiese vaardighede: Goeie hand-oog-koördinasie is ‘n móét, want om met
        gereedskap, drade en ander komponente te werk, verg presiese handbewegings.
        Bekendheid met en vaardigheid in die gebruik van gespesialiseerde toerusting is
        ook belangrik. Fisiese arbeid vorm dikwels deel van die werksbeskrywing en sluit
        die optel van swaar toerusting, werk in nou spasies en staan vir lang periodes, in.                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                               Pas dié eienskappe jou soos ‘n handskoen? Elektrifiseer jou toekoms en kom                                                                                                                               studeer elektries by BKO – jy sal beslis nie spyt wees nie! Lees hier meer oor die kwalifikasie.