Stel jy belang om meer te weet?

Skryf in

Bespreek 'n kampustoer

Stel jy belang om meer te weet?

Skryf in

Met visie en vasberadenheid: Kallie Kriel versterk BKO se bestuursraad

Bo-Karoo Opleiding (BKO) kondig met trots die aanstelling van mnr. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, as direkteur aan. Kriel se inskakeling by die BKO-bestuursraad versterk BKO se strategie om uitnemende, kultuurgebonde en toekomsgerigte beroepsopleiding aan Afrikaners te bied.

“Ons is dankbaar vir mnr. Kriel se bereidwilligheid om sy kundigheid en ervaring tot voordeel van BKO en ons studente in te span,” sê Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO. “Sy insig in gemeenskapsorganisasies, bestuur en strategiese groei gaan ’n waardevolle bydrae tot die raad lewer.”

Mnr. Kriel se aanstelling vorm deel van BKO se voortgesette fokus op volhoubare groei, stabiliteit en die uitbreiding van opleidingsgeleenthede in die landbou en ander skaars vaardighede. As direksielid gaan hy ’n rol speel in strategiese rigtinggewing, beleidsbestuur en die versterking van BKO se mandaat om kwaliteit, kultuurgerigte opleiding te bied.

BKO se direksie sluit verder in mnre. Appie Pienaar, Dirk Herman, Hennie Bierman, Anton van der Bijl en Willie Venter (van die Solidariteit Beweging), Org du Plessis (SAAI) en Frans de Klerk (Orania Ontwikkelings Maatskappy).

Ons het vyf vrae aan Kallie gevra om hom beter te leer ken.

1. Met jou onderwysagtergrond blyk dit dat jy ’n hart vir die onderwys het, wat maak jou opgewonde oor die onderrig en opleiding van jongmense?
Ons as huidige geslag het ’n ongeskrewe kontrak met die vorige én volgende geslagte. Dit behels dat ons respek toon vir dit wat ons van ons voorgeslagte ontvang het en ons roeping is om alles moontlik te doen om te help om die voorwaardes te skep waarbinne die toekomstige geslagte ook vir hulle, hulle gesinne en gemeenskappe, ’n toekoms kan help skep. Die bied van gehalte onderwys en opleiding aan ons jongmense is dus ’n kern verantwoordelikheid van ons geslag om vir die wat ná ons kom, ’n stewige wegspringplek te gee.

2. Uit die aard van jou werk as uitvoerende hoof by Afriforum staan jy aan die spits van ’n wye reeks veldtogte ter beskerming van burgerregte, waaronder teenstand teen haatspraak, misdaad, korrupsie en die miskenning van Afrikaans. Wat hou jou positief en reg om elke oggend roepingsgedrewe voort te gaan?
Die wete dat God vir elkeen van ons hande, ’n verstand en roeping gegee het waarmee ons, met genade van Bo, self die toekoms kan skep wat ons vir ons kinders wil hê. Ons is dus nie aan die korrupte Suid-Afrikaanse owerheid van die dag uitgelewer nie.

3. BKO en sy studente funksioneer as deel van die hartklop van die plaaslike Afrikaner Orania-gemeenskap. Hoe belangrik dink jy is dit vir jongmense om deel van hul gemeenskap te wees?
Een van die voorwaardes vir ware vryheid behels die normalisering van die lewe wat ons in normale gemeenskappe lei. ’n Gemeenskap kan nie normaal wees en funksioneer sonder die energie en krag wat jongmense aan ’n gemeenskap bied nie. Hulle vorm ook ’n sleutelskakel vir die oorgang van ons geslag na die volgende geslagte wat die vryheidsideaal moet voortsit.

4. Wat is jou wens vir elke student wat by BKO studeer, en nog in die jare wat kom gaan studeer?
My wens vir elke student is dat hulle optimaal sal ontwikkel om die beste weergawe van hulself te wees. En dat hulle dit ook in die proses sal geniet.

5. Die uitgestrekte Bo-Karoovlaktes, die oewers van die Oranjerivier en die veilige dorp bied die ideale geleentheid vir die gereelde beoefening van die eeue-oue Afrikaanse tradisie van braai. Los asb vir ons uiteindelik die titaniese debat op: Aan watter kant van die brood moet jou braaibroodjies gebotter word?
Daar is geen twyfel nie, almal behoort te weet ’n braaibroodjie moet aan die buitekant gebotter word!

Baie welkom, Kallie!