Stel jy belang om meer te weet?

Bespreek 'n kampustoer

Koshuisverblyf vir 2027

Eerstejaarskamp 2027

Skryf in

Stel jy belang om meer te weet?

Skryf in

‘n Jaar vol hoogtepunte

Desember hou elke jaar sy eie bekoring in. Twaalf maande van arbei en werk is verby en mens kan terugkyk na die seëninge en gebeurtenisse van die jaar. 2025 was ’n wonderlike akademiese jaar waarin ons studente hul met gehalte opleiding vir hul roeping kon voorberei en hul vaardighede slyp. 

Dit is moeilik om net ’n paar uit te lig, maar hierdie ses hoogtepunte is bo-aan die lys vir 2025:

  1. Die aanstelling van tien nuwe personeellede gedurende 2025 verseker ’n groeiende personeelkorps met meer kapasiteit. Die uitgebreide kundigheid help ons om ons studente beter en beter vir hul toekoms toe te rus. Die toevoeging van dr Ilse le Grange in die Landbou-afdeling is baie opwindend en verseker dat hierdie sleutel studierigting vooruit boer. 
  2. BKO het hierdie jaar ’n rekordgetal studente gehad en is trots op elkeen wat sy/haar studies in die hartjie van die Karoo kom aanpak en suksesvol voltooi het. 208 studente het gedurende die jaar opleiding ontvang in tuisversorging;  boerderybestuur; bou- en siviele konstruksie; elektries, loodgieter; siviele ingenieurswese; vroeë kinderontwikkeling; tuissorgassistente en basiese messelwerk. Die impak wat hierdie studente in die bedryf gaan hê is astronomies en om op so ’n wyse betrokke by die toekoms van ons land te kan wees, is ’n groot voorreg.
  3. BKO kon in 2025 sy grondgebeid vergroot deur die uitbreiding van sy fasiliteite. Bykomende vloerspasie is in beide die Elektries- en Loodgieterwerkwinkels aangebring om die onderrigpotensiaal te vergroot. Die uitbreiding van die Leer-My-Hoe Proefplaas is noemenswaardig en het al reeds ’n vormende impak op die studente gehad.
  4. BKO se studietoer in April na Europa om met internasionale rolspelers in die opleidingsgebied skouer te skuur en bande te smee het ons oë vir verskeie moontlikhede oopgemaak en ook bevestig dat ons die regte fokus plaaslik het.
  5. BKO en sy studente vorm deel van die Orania-gemeenskap en Orania vorm op sy manier weer ons studente. Om deel van so ’n Afrikaner-gemeenskap te wees is ‘n groot voorreg! Ons studente was Karnaval-vlotwenners, neem deel aan konserte, sport (rugby, hokkie, netbal, vlugbal, muurbal en swem) en spring heelhartig in by bouprojekte en gemeenskapswerk.
  6. Die bekendstelling van die Paul Kruger-beeld in Oktober lê ons na aan die hart! Vanuit die geskiedenis beweeg ons vorentoe en hierdie was ’n uitstekende geleentheid om aan ons studente die belangrikheid van ons geskiedenis, en hul rol daarin, te wys. Van ons eie studente was betrokke by die messelwerk van die voetstuk van die beeld. So is die geslagte deur handewerk ook aanmekaar gebind. 

Wanneer mens so terugkyk besef jy dat dit alles net genade is! In genade het die Here ook vir BKO deur nog ’n jaar gedra en ons is dankbaar dat ons ook op so ’n wyse in Sy koninkryk kan werk!