“Bo-Karoo Opleiding het my ‘n tree nader aan my droom gebring,” sê Jeanine Struwig, ‘n trotse afgestudeerde student wat nou in Orania werk. “Die mense wat ek hier ontmoet het, die ervaring wat ek opgedoen het, en die kennis wat ek versamel het – dit was beslis die moeite werd!”
Jeanine, wat nou 20 jaar oud is, het in 2022 in Bloemfontein gematrikuleer. Sy was so opgewonde om haar opleiding in verpleegkunde die volgende jaar te begin. As kind was sy altyd gefassineer deur die mediese veld en het gedroom van die dag wat sy haar passie vir verpleegkunde kon uitleef.
“Toe ek hoor dat my aansoek by MediClinic nie goedgekeur is nie, het dit my rêrig platgeslaan,” vertel sy. “Ek het gedink, wat nou? Dit was toe dat BKO in die prentjie gekom het. Eerlikwaar, ek het nie eens geweet Orania het ‘n opleidingsinstelling nie! Toe ek van die Tuisversorging-kursus hoor, het ek gedink dit is dalk nie heeltemal wat ek beplan het nie, maar dis beslis ‘n stap in die regte rigting.”
Jeanine het in 2023 haar kursus voltooi en beskryf haar tyd op kampus met ‘n mengsel van dankbaarheid en optimisme vir die toekoms.
“Om in Orania te wees, was aanvanklik nogal vreemd vir my. Ek was nie heeltemal gewoond aan die unieke kultuur nie, en alles was anders as wat ek geken het. Maar jy weet wat? Dit was so skoon en georganiseerd, en dit het my diep beïndruk hoe almal saamwerk om alles self te doen. Die kursus self was absoluut ongelooflik! Elke dag was ‘n avontuur vol nuwe en interessante dinge om te leer. Ons dosente was so professioneel en passievol oor wat hulle doen, en hulle het seker gemaak ons verstaan alles goed. Dit het my soveel praktiese kennis gegee, en ek kon dit alles gebruik tydens my praktiese blokke – dit was soos om al die stukkies van ‘n legkaart inmekaar te sit.
Ons het geleer om mense wat hulp nodig het op ‘n holistiese manier te versorg – nie net fisies nie, maar ook emosioneel en geestelik. Dit het baie vir my beteken, omdat ek eerstehands beleef het hoe my eie familie intensiewe sorg nodig het. Nou voel ek sterk en toegerus om hulle regtig te help. Dit is ‘n ongelooflike gevoel, soos om ‘n verskil in die wêreld te maak. Wat my ook baie opgeval het, is hoe breedvoerig die kursus was. Ons het alles van die versorging van swanger vroue tot palliatiewe sorg behandel. Ons het met mense van alle ouderdomme en agtergronde gewerk, en dit het my ‘n beter begrip gegee van wat dit regtig beteken om vir ander te sorg.”
Tans werk Jeanine by ‘n versorgingshuis in Orania, waar sy elke dag omgee vir inwoners wat verskillende vlakke van ondersteuning nodig het. Sy geniet dit om haar kennis in haar werk toe te pas, maar sy hou steeds haar droom lewendig en beplan om verder in verpleegkunde te studeer.
“Ek geniet dit baie. Ek voel so dankbaar vir die mense wat ek ontmoet het en die gemeenskap wat my ondersteun,” sê sy met ‘n glimlag. “En ek kan nie genoeg dankie sê vir Bo-Karoo Opleiding nie. Hulle het my ‘n wonderlike wegspringplek gegee en my geleer om verantwoordelikheid te neem en hard te werk. Dit was regtig die moeite werd!”