Orania, 2 Oktober 2024 – Bo-Karoo Opleiding (BKO) breek nuwe grond met die implementering van ‘n innoverende beroepskwalifikasie model vir studies met 2025 innames, wat die tradisionele vakleerlingskap vervang en daarop fokus om jong vakleerlinge toe te rus met noodsaaklike vaardighede wat aan moderne bedryfsvereistes voldoen.
Die tradisionele vakleerlingskap, wat oor ‘n vaste tydperk van 3-4 jaar strek, het studente meestal onder toesig van ‘n ervare ambagsman opgelei. Hierdie metode was meer tydgebaseerd en het gefokus op praktiese werkservaring. Daarteenoor is BKO se nuwe model uitkomsgebaseerd en gestandaardiseer, met ‘n duidelike klem op industriebehoeftes en die ontwikkeling van praktiese sowel as teoretiese vaardighede.
Paul Vogel, Uitvoerende Hoof van BKO, verduidelik: “Die beroepskwalifikasie model wat ons aanbied, kombineer 18 maande teoretiese en praktiese opleiding by BKO, gevolg deur 18 maande praktiese werk onder die toesig van ‘n gekwalifiseerde mentor in ‘n goedgekeurde werkplek. Dit verseker dat studente nie net vaardighede bemeester nie, maar ook gereed is vir die moderne mark.”
Die nuwe beroepskwalifikasie bied ‘n reeks voordele vir beide studente en werkgewers. Werkgewers het die geleentheid om vakleerlinge vir 18 maande aaneenlopend op te lei sonder die verpligting van ‘n meerjarige kontrak, terwyl die kwalifikasies volledig in lyn is met internasionale standaarde.
Johan Klinck, Hoof van Ambagte by BKO, voeg by: “Ons fokus op gestruktureerde opleiding maak dit vir werkgewers maklik om ons studente te plaas, en die mentorstelsel verseker dat vakleerlinge onder die beste omstandighede kan leer en groei.”
BKO bied verskeie beroepskwalifikasies aan, insluitend Elektrisiën, Loodgieter en Messelaar, elk met NKR-vlak 4 sertifikate. Hierdie programme stel studente in staat om hulle loopbane in verskeie sektore verder uit te bou. Vir verdere inligting oor die kwalifikasies besoek ons webwerf by www.bko.co.za of kontak ons direk.
Hier is ‘n paar foto’s van die geleentheid.