Die koshuise, Die Duiker en Steenbok Herberg, het nuwe voogde verwelkom. Johan Scholtz (27) en Nadia Marais (25) sê hulle is opgewonde oor die uitdaging en sien uit om studente net so opgewonde te maak vir die jaar wat voorlê. Johan, nuwe voog van Steenbok, sê hy wil trots kweek by die studente en die koshuis verander in ’n huis vir elke manstudent. Sy visie vir die koshuis is om te sorg dat die studente ’n aangename, maar verantwoordelike studentelewe kan geniet. “Ek wil die studentelewe ophelder deur weeklikse aksies te hou.”
Nadia, voog van Die Duiker, sê sý wil help om ’n sterk koshuiskultuur te ontwikkel om sodoende meer studente te lok. Die Duiker huisves tans 22 studente en Nadia gaan probeer om die koshuislewe vir alle studente opwindend te maak sodat almal wíl deelneem aan die aktiwiteite om sodoende ’n hegte eenheid te vorm. “Ek wil graag hê dat Die Duiker eendag bekend sal staan as die koshuis met studente wat help om die gemeenskap van Orania te bevorder.”
Die Duiker het ’n paar opwindende aksies wat voorlê, onder meer die film-aand wat in Augustus plaasvind, asook ‘n inbly-naweek in September wat opsy gesit is om studente wat hierdie jaar afstudeer, te groet. Die Duiker se inwoners is ook trots en opgewonde oor die ontwerp van ’n koshuis-kappiebaadjie wat eersdaags die lig gaan sien.
Johan en Nadia is ook betrokke by die blootstelling van studente aan verskeie BKO-strukture en dorpsaangeleenthede waar hulle meer leer oor leierskap, organisasievaardighede en gemeenskapswerk. Dissipline, netheid en stiptelikheid is enkele van die kernwaardes wat hierdie twee voogde by die studente wil tuisbring.
Ons sien uit daarna om die nuwe studenteverblyf wat tans in aanbou is, naamlik die Olienhout-ontwikkeling, volgende jaar bekend te stel. Dié koshuis gaan beskik oor drie kamers wat elk ‘n maksimum van vier studente kan huisves, ‘n oopplankombuis en ‘n leefarea. Ons is ook besig om ’n veldtog van stapel te stuur wat die gemeenskap ‘n geleentheid sal gee om voorstelle te maak rakende die nuwe koshuis se naam en gepaardgaande tradisies wat van toepassing sal wees op die nuwe studente wat by BKO kom studeer.
Koshuislewe is die hartklop van BKO. Ons hoop dat studente lewenslange vriendskappe hier sal sluit, onvergeetlike herinneringe sal maak en tradisies sal nalaat vir vele toekomstige generasies.