Bo-Karoo Opleiding het weer die gewilde Steenwerk Vakmanuitdaging aangebied tydens die Orania Karnaval, en ons is trots om die talentvolle deelnemers en borge uit te lig. Vanjaar het 11 spanne, elk bestaande uit ‘n bouer en ‘n handlanger, mekaar die stryd aangesê. Ten spyte van die heerlike reën wat die karnaval verfris het, het dit nie die passie en kompeterende gees van die bouers geblus nie. Elke span het gebou volgens ‘n plan ontwerp deur Cornè Cawthorn van Ora Ligte Staal, met sand wat geborg is deur Wilco. Die prysgeld is 50/50 geborg deur die Orania Dorpsraad en Bo-Karoo Opleiding.
Elke span moes die 51 stene aandra benodig en gebruik maak van ‘n herbruikbare mengsel van kalk en sand wat geborg is deur Wilco. Na afloop van die beoordeling is al die stene en gereedskap skoongewas en teruggedra, wat getuig toewyding aan goeie spanwerk en netheid.
In derde plek met 62 punte was DJ en Daniël (BPP Konstruksie), Steve en Ryno (OSB Projekte) tweede met 63 punte, maar dit was Gerhard en Marco, ook van BPP Konstruksie, wat weggestap het met die titel en die wen prysgeld. Charl, oftewel Mielie soos hy bekendstaan onder die studente, het die prys vir die beste gees ontvang – om die loodgieter-student te sien bou was regtig vermaaklik!
Ons bedank graag Orania Dorpsraad vir die hulp met die vervoer van die nodige materiaal, asook ons toegewyde BKO-personeel en studente wat gehelp het met die voorbereiding. Spesiale dank ook aan ons beoordelaars, Dewald Otto van OSB en Robert McBeath, Orania se bou-inspekteur, vir hul waardevolle insette. Laatens, maar nie die minste nie, die span van Bakgat Projekte gehelp het met die logistieke en opruiming na afloop van die uitdaging.
Die vaardigheid van bou is ‘n onmisbare deel van die groei van ons gemeenskap. In Orania speel vaardige bouers ‘n sleutelrol om kwaliteit strukture te skep en volhoubare ontwikkeling te verseker. By Bo-Karoo Opleiding bied ons praktiese en teoretiese opleiding in Bou- en Siviele Konstruksie om ons studente toe te rus met die vaardighede wat nodig is om ons dorp en gemeenskap se infrastruktuur te bou en te verbeter.
Hier is ‘n paar foto’s van die kompetisie.