Geskryf deur Dr. Wikus Buys
Die Christen-tuisversorger het ‘n besondere roeping voor die Here. Die Here gee in sy genade altyd gawes wat by ‘n spesifieke nood pas. Tuisversorging is die beroep waar mense in nood in hulle huis versorg moet word. Nie enige iemand kan hierdie werk reg doen nie. ‘n Mens het baie besondere gawes nodig om dit te kan uitvoer. Om iemand te versorg is om die barmhartigheid van die Here op so ‘n manier aan iemand anders te bewys dat hulle die liefde van God self ervaar.
Die Bybel leer ons dat God liefde is (1 Joh. 4:8). God as die Skepper van die mens het dus in liefde die mens na sy beeld en gelykenis gemaak. Wanneer ons na ons medemens kyk en hulle versorg, moet die liefde van die Here self ons rigsnoer wees. God se liefde is onbaatsugtig en stel die ander se belange eerste.
Die Christen-tuisversorger werk met sy/haar medemens na gees, siel en liggaam. Die oproep wat ons in Heb. 13:3 kry is juis daarom so van toepassing op tuisversorging: “Dink aan die gevangenes asof julle medegevangenes is, en aan die wat mishandel word, as mense wat self ook ‘n liggaam het.”
‘n Roeping is meer as om net ‘n beroep te hê. ‘n Roeping as tuisversorger is om met die gawes wat God jou gegee het, die barmhartigheid van God aan mense wat in nood verkeer, te bewys. Hierdie roeping is ten diepste in die liefde van God gegrond. Dit is daarom so ‘n voorreg en ook ‘n plig om in jou werk as tuisversorger altyd hierdie roeping hoog te ag.
Kom leef jou roeping uit deur Tuisversorging by BKO te studeer.