Stel jy belang om meer te weet?

Bespreek 'n kampustoer

Koshuisverblyf vir 2027

Skryf in

Stel jy belang om meer te weet?

Skryf in

Van klaskamer tot proefplaas: nuwe landboudiplomas vanaf 2027 by BKO

ORANIA – Bo-Karoo Opleiding (BKO) het ’n strategiese vennootskap met Peritum Agri Institute gesluit om vanaf 2027 twee geakkrediteerde Nasionale Diplomas, naamlik Diereproduksie en Plantproduksie, by BKO aan te bied.

Die twee NKR-vlak 5-kwalifikasies is deur AgriSETA geakkrediteer en bied voornemende studente die geleentheid om gespesialiseerde kennis en praktiese vaardighede te ontwikkel vir ’n suksesvolle loopbaan in die landbousektor.

Die tweejaarprogramme word voltyds op kampus in Orania aangebied as deel van BKO se “kampus sonder mure”, met ’n sterk praktiese komponent op die 22-ha Leer-My-Hoe Proefplaas. Studente kry sodoende die geleentheid om hul teoretiese kennis binne ’n werklike landbou-omgewing toe te pas en waardevolle praktiese ervaring op te doen. Studente word deurlopend geassesseer en bou gedurende die twee jaar aan ’n omvattende werkportefeulje waarin hul kennis en praktiese vaardighede gedemonstreer word. Die kombinasie van teorie, praktiese opleiding en deurlopende assessering bied aan studente ’n geïntegreerde leerervaring wat hulle voorberei vir die werklikhede van die landbousektor.

’n Geïntegreerde visie vir die toekoms van landbou

Die samewerking kom op ’n kritieke tydstip vir die Suid-Afrikaanse landbousektor, waar die behoefte aan prakties opgeleide, tegnologies koersvaste en selfstandige landboukundiges voortdurend toeneem.

“Hierdie samewerking kombineer Peritum Agri Institute se beproefde kurrikulum met BKO se praktiese, gemeenskapsgebaseerde opleidingsmodel,” sê Marcel Badenhorst-Nieuwoudt, BKO se Landboudepartementshoof. “Dit is ’n belangrike stap vorentoe vir praktiese landbou-opleiding. Deur vennootskappe van hierdie gehalte te bou, skep ons geleenthede vir individuele studente en belê ons direk in die langtermyn-voedselsekerheid, volhoubaarheid en ekonomiese groei van die landbousektor.”

Die uitbreiding van BKO se landbou-opleidingsaanbod vorm ’n belangrike bousteen in die ontwikkeling van ’n breër landbou-ekosisteem. Deur tegnologiese innovasie op die proefplaas met toepaslike praktiese ervaring te kombineer, word studente blootgestel aan onder meer klimaatstoestande, hulpbronbestuur en moderne boerderytegnologieë. Die vennootskap tussen privaat opleidingsinstellings soos BKO en Peritum illustreer ook hoe die private sektor ’n daadwerklike rol kan speel in die ontwikkeling van die kritieke vaardighede wat die landbousektor benodig.

Toelatingsvereistes is ’n matrieksertifikaat of gelykwaardige kwalifikasie en ’n minimum van 40% in Wiskunde, Tegniese Wiskunde of Wiskundige Geletterdheid word vereis, terwyl geen vorige landbouvakke nodig is nie.

Meer as net ’n kwalifikasie

Die BKO-ervaring strek egter verder as die klaskamer en proefplaas. Omdat die programme twee jaar voltyds op kampus in Orania aangebied word, word studente deel van ’n aktiewe en vlytige Afrikaner-studentelewe waarin akademie, kultuur en sport en hand aan hand gaan. Voornemende studente kan uitsien na die unieke ervaring van studeer in ’n egte plattelandse gemeenskap, waar ’n sterk gevoel samehorigheid deel vorm van die daaglikse lewe. Verblyf is beskikbaar in vier koshuise, elk met sy eie identiteit, sterk tradisies en unieke

gemeenskapslewe. Twee daghuise gee studente wat van privaat verblyfopsies gebruik maak die geleentheid om in te skakel by studente aktiwiteite. Finansieringsopsies is ook beskikbaar om studente te ondersteun met die koste verbonde aan hul studies.

Vir studente wat dus in 2027 met een van die nuwe landboudiplomas begin, wag daar meer as ’n kwalifikasie – dit is ’n geleentheid om te leer, praktiese ervaring op te doen, deel te neem, nuwe vriendskappe te vorm en as deel van ’n hegte gemeenskap te groei.

Van die klaskamer tot die proefplaas, en van die kampus tot die gemeenskap, lê daar vanaf 2027 ’n nuwe landbougeleentheid in Orania op die horison – met die oog op die volgende geslag landboukundiges en -leiers.