Administratiewe Beampte: Akademie
Bo-Karoo Opleiding (BKO) is ʼn privaat beroepsopleidingsinstelling sonder winsoogmerk in Orania wat studente die ideale geleentheid bied om ʼn nasionaal geakkrediteerde kwalifikasie in ʼn veilige, gestruktureerde, landelike omgewing te verwerf. BKO fokus daarop om vryheid deur middel van gehalte-opleiding en -arbeid moontlik te maak deur studente toe te rus om hulle tot roepingsgedrewe volwassenes te vorm wat die arbeidsmark met selfvertroue kan betree.
Die minimum vereistes om vir die pos in aanmerking te kom, is:
- graad 12;
- drie tot vyf jaar se ervaring in ʼn administratiewe rol;
- ʼn sterk oog vir besonderhede (detail); en
- goeie kommunikasie, interpersoonlike en probleemoplossingsvaardighede.
Die posbekleër sal onder meer verantwoordelik wees vir:
- gehalteversekering van administratiewe funksies;
- akademiese administrasie soos punte insleutel, notules byhou, studentelêers bou en byhou;
- die bestuur van die volle eksamenkomponent vir voldoening;
- die opstel van punteverslae en die bestuur van kommunikasie aan studente; en
- studente-oriëntering, die bestuur van die promoveringsproses en die berging van dokumente.
Sterk kommunikasie- en administrasievaardighede sal in die kandidaat se guns tel. Die posbekleër moet verskeie pligte akkuraat en doeltreffend kan uitvoer. Aandag aan detail en netheid is belangrik.
Die suksesvolle kandidaat moet ten volle belyn wees met die waardes en werkswyse van die groter Solidariteit Beweging wat uit ʼn sterk morele, etiese en Christelike agtergrond voortspruit. Die suksesvolle posbekleër moet ook bereid wees om hom of haar volkome met die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap van Orania te vereenselwig. ʼn Sterk verbintenis met Orania se visie van selfstandigheid en selfwerksaamheid sal in die kandidaat se guns tel.
Indien jy aan dié profiel voldoen, stuur asseblief jou CV (geen sertifikate nie) voor of op 13 Desember 2024 per e-pos na Chantall Hugo by betrekkings@solidariteit.co.za.
Indien jy nie binne drie weke ná die sluitingsdatum terugvoer ontvang nie, kan jy aanvaar dat ander kandidate vir die pos oorweeg is.