Stel jy belang om meer te weet?

Bespreek 'n kampustoer

Koshuisverblyf vir 2027

Skryf in

Stel jy belang om meer te weet?

Skryf in

BKO brei praktiese landbouopleiding uit met Bosrand-werkswinkelfasiliteite op die Leer-My-Hoe Proefplaas

ORANIA – Bo-Karoo Opleiding (BKO) het op 7 September 2026 ’n verdere groeifase betree tydens die projekloodsingsfunksie van die Bosrand-werkswinkelfasiliteite op die instelling se 22 ha Leer-My-Hoe Proefplaas in Orania.

Die projek behels ’n belegging van ongeveer R3,6 miljoen en vorm deel van BKO se voortdurende uitbreiding van sy landbou-opleidingsinfrastruktuur. Die ontwikkeling is onder meer moontlik gemaak deur ’n testamentêre bemaking van die Koos en Miemie Trust aan Eendracht, wat ontwikkeling in Orania moontlik maak en bestuur, asook deur die samewerking met Orania Groeikrag, ’n filiaal van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy.

Die nuwe fasiliteite, wat Bosrand genoem sal word, sal aan BKO se landboustudente toegang bied tot ’n toegeruste meganiese werkswinkel waar praktiese vaardighede in ’n werklike landbou-omgewing ontwikkel kan word.

Tydens die projekloodsingsfunksie het Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO, die belangrikheid van praktiese opleiding in landbou beklemtoon.

“Praktiese vaardighede is van ontsaglike belang om studente reg voor te berei vir die werksplek. Ons wil hê ons studente moet die werk self kan doen, probleme identifiseer en oplossings vind.”

Die nuwe meganiese werkswinkel beslaan 188 m² en is met baksteenmure toegebou en afgewerk. Die fasiliteit is hoofsaaklik vir die Landboudepartement ontwerp, maar kan ook as ’n lesinglokaal vir ander departemente benut word. ’n Diensput gaan studente die geleentheid bied om voertuie te besigtig en daaraan te werk, terwyl dampverkoeling vir klimaatbeheer voorsiening maak.

Die ontwikkeling sluit verder ’n 60 m²-veeldoelige ruimte, nuwe ablusiegeriewe van 32 m² en ’n 100 m²-afdak aan die suidekant van die gebou in. Die veeldoelige ruimte kan onder meer as ’n ontvangs- of onthaalruimte vir funksies gebruik word, terwyl die afdak geskik is vir praktiese aktiwiteite en buiteluggeleenthede.

“Hierdie ontwikkeling gaan oor meer as ’n nuwe werkswinkel – dit is ’n belegging in die manier waarop ons studente vir hul landbouloopbane voorberei. Ons wil ’n omgewing skep waar teorie en praktyk voortdurend met mekaar verbind word en waar studente die geleentheid kry om werklik hande vuil te maak,” sê Vogel.

Die uitbreiding kom op ’n belangrike tydstip vir BKO se landbou-aanbod. Die instelling brei sy landbouprogramme verder uit, met nuwe kwalifikasies wat vanaf 2027 aangebied sal word.

Die kombinasie van teoretiese opleiding en uitgebreide praktiese blootstelling op die Leer-My-Hoe Proefplaas, saam met die ontwikkeling van fasiliteite soos Bosrand, sal BKO verder posisioneer as ’n toonaangewende bestemming vir landbouopleiding in Suid-Afrika.

“BKO word die eerste keuse vir jongmense wat ’n loopbaan in landbou wil volg,” sê Vogel.