In die Karoo is dit nie eintlik die gebruik om baadjies aan te trek nie, maar eerder om jou baadjie uit te trek.
Bo-Karoo Opleiding, ook bekend as BKO, het nou sy ou baadjie uitgetrek en spog met ‘n splinternuwe kenteken en webblad.
Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO, kondig die nuwe hoofstuk met trots aan:
“Ons kyk dankbaar terug na die begin van Bo-Karoo Opleiding in 2019 met vyf studente. Die grond is voorberei, die fondasie is gelê en ons visie is duidelik. Vryheid deur opleiding en arbeid! Ons weet waar ons krag vandaan kom en ons bou saam aan ‘n hoopvolle toekoms.
“Met 130 studente, 3 koshuise, 1 daghuis, 17 roepingsgedrewe personeel, die Leer-my-hoe-proefplaas, splinternuwe werkswinkels en ‘n positiewe gemeenskap is BKO in 2024 gereed vir die volgende fase en al die geleenthede wat op ons wag.”
Met hierdie nuwe kenteken word Bo-Karoo Opleiding se karaktereienskappe en visie uitgebeeld. Die kenteken is ‘n pilaar met verskeie elemente wat ook die student se reis voorstel. BKO bou aan ons gemeenskap deur studente:
- met ‘n Christelike fondasie toe te rus; (element Bybel)
- binne ‘n veilige en beskermde omgewing op te lei, (element hande)
- vir ‘n vrye en hoopvolle toekoms voor te berei, (element vensters)
- en gehalte opleiding en arbeid te bied. (element hoed/dakkie)
Selfs die kleure is noukeurig uitgekies om ons karakter vas te vang:
- Die oranjegloed dui op ons vryheid hier in Orania.
- Die grou grys kleur dui op die klipharde bouwerk wat hier plaasvind.
- Die olyfgroen is simbolies vir groei en ons Christelike geloof.
- Die sandkleur dui op die Karoo, asook die oewer van die Oranjerivier.
- Die pruimpers simboliseer die adellikheid van alle arbeid.
Bo-Karoo Opleiding is ‘n opleidingsinstansie wat in Orania, langs die Oranjerivier, in die Bo-Karoo geleë is. BKO bied vyf studierigtings, waarin studente hulself vir die arbeidsmark kan bekwaam:
- Boerderybestuur
- Bou- en Siviele Konstruksie
- Loodgieter
- Elektries
- Tuisversorging
Gaan loer gerus in op BKO se splinternuwe webblad: bko.co.za vir meer inligting en om in hierdie opwindende reis te deel.
Mediakontak:
Carla Loots
053 110 0620
carla@bko.co.za