Bo-Karoo Opleiding (BKO) het op 8 Junie 2026 ‘n opwindende groeifase betree tydens die sooispitfunksie van hul werkwinkel- en kantoorbouprojek op die BKO Technika-perseel in Orania.
Hierdie bouprojek behels die ontwikkeling van 3 306 m² oor drie fases, waarvan die eerste fase in 2026 afgehandel sal word teen ‘n begroting van ongeveer R15 miljoen.
Tydens die sooispitseremonie het Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO, die belangrikheid van gehalte-opleiding vir studente by BKO beklemtoon. “Ons is dankbaar om vandag die eerste sooi te spit vir ons Snelrat 800-plan, waarvolgens ons beplan en hard werk om ‘n studietuiste vir meer as 800 studente by BKO te skep. Vandag bring ons een tree nader aan ons doelwit om nog meer studente met skaars en kritieke vaardighede toe te rus vir ‘n suksesvolle werkloopbaan.”
Fase een behels die ontwikkeling van ‘n dubbelverdiepinggebou met ‘n elektriese en sonkragwerkswinkel op die grondvloer, en klaskamers, ‘n rekenaarlokaal en kantore op die boonste verdieping.
“Hierdie projek skep nie net ruimte vir ‘n groter programaanbod aan studente nie, maar stel ons ook in staat om ons personeel met beter fasiliteite toe te rus sodat hulle studente op ‘n uitnemende wyse kan ondersteun,” meen Vogel.
Die ontwikkeling vorm verder deel van die strategie om versnelde groei in Orania te bevorder deur meer BKO-studente in die dorp te vestig.
“By BKO lei ons studente in die gemeenskap, vir die gemeenskap, op. Jy sal sukkel om so ‘n vrye en vlytige studentelewe elders te vind. Ons huidige studente en alumni kan daarvan getuig. Dit alles vind plaas op ‘n kampus sonder mure en binne ‘n unieke Afrikaner kultuuromgewing,” sê Vogel.
Getrou aan die vindingrykheid van die konstruksiebedryf in Orania word die werkswinkels met voorafvervaardigde betonblaaie opgerig, terwyl liggewigstaal-droëmure tussen die klaskamers aangebring word. Die elektriese en sonkragwerkswinkel sal met waterverkoeling vir klimaatbeheer toegerus word.
Die funksie is deur ongeveer 150 vriende, belangstellendes en studente van BKO bygewoon.
BKO is in 2019 met slegs vyf studente gestig. Tans beskik die instelling oor 250 studente, drie koshuise, een daghuis, 30 roepingsgedrewe personeellede, twee werkwinkels, ‘n boublad, die Leer-my-hoe-proefplaas en ‘n gesonde studentekultuur. Konstruksie is reeds in volle swang vir ‘n addisionele manskoshuis vir 2027, en ‘n slefstandige daghuis vir dames.
