Human Auto Kimberley en Bo-Karoo Opleiding span saam met ‘n Ford Ranger wat gebou is om te werk.
Mediaverklaring: 2 November 2026
ORANIA – Bo-Karoo Opleiding (BKO) en Human Auto Kimberley het ‘n strategiese vennootskap aangegaan wat die toekoms van skaars vaardigheidsopleiding in Suid-Afrika versterk.
Volgens die ooreenkoms ontvang BKO ‘n FORD Ranger-bakkie om vir ‘n tydperk te gebruik, onder meer by die Leer-My-Hoe Proefplaas en die BKO-werkswinkels. Die voertuig sal dien broodnodige wiele op die grond vir studente se praktiese opleiding nie, maar gaan BKO ook op die pad sit om voornemende studente regoor die land te gaan besoek en die BKO-storie wyd en syd te versprei. Soos die Ford-gesegde lui: gebou om te werk!
“Dis ‘n bakkie wat gebou is om te werk, en dis presies wat ons ons studente leer. Ons is dankbaar teenoor Human Auto Kimberley dat hulle op so ‘n manier in die toekoms van ons jongmense belê.” sê Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO.
Dis ook ‘n gepaste beeld vir BKO se opleidingsmodel, waar studente leer deur self die werk te doen.
Hierdie vennootskap wys hoe die sakesektor en beroepsopleiding mekaar kan versterk om die ontwikkeling van skaars, praktiese vaardighede in Suid-Afrika in ’n hoër versnelling te plaas.
“Ons glo in opleiding wat jongmense met skaars en noodsaaklike vaardighede toerus, en ons is trots om BKO met ‘n FORD Ranger te ondersteun. Human Auto se visie is om effektiewe gemeenskapsbetrokkenheid deur die beskikbaarheid van bekostigbare en gehalte-motorvoertuie te verseker. Hierdie ooreenkoms doen presies dit!” sê Johan Lubbe by Human Auto Kimberley.
Indien jy die BKO FORD Ranger op die pad sien, druk gerus jou toeter en waai!
Meer oor BKO: BKO is in 2019 met 5 studente gestig en het tans 260 studente. Die instelling in Orania, in die Bo-Karoo langs die Oranjerivier, bou aan vryheid deur opleiding en arbeid. Vanaf 2027 brei BKO sy landbou-aanbod uit na drie gespesialiseerde kwalifikasies, met steeds ’n sterk fokus op tegniese kwalifkasies soos Bou- en Siviele Konstruksie, Elektries en Loodgieter asook die opleiding van versorgers en voorskoolse onderwysers.
Oor Human Auto Kimberley: Human Auto is die FORD-handelaar in Sentraal-Suid-Afrika en bied ‘n wye reeks passasiers- en ligte afleweringsvoertuie aan. Die onderneming is in 1950 gestig en die Kimberley-tak is in 1958 geopen. Met FORD-goedgekeurde diensentrums dien Human Auto die gemeenskap van die Vrystaat en die Noord-Kaap, met die visie van “effektiewe gemeenskapsbetrokkenheid deur die beskikbaarheid van bekostigbare en gehalte-motorvoertuie”.