Marlize van Rooyen, ‘n Vroeë Kinderontwikkeling (VKO)-student by BKO, is opgewonde oor die volgende fase van haar onderwysstudies.
Marlize is deel van BKO se VKO-loodsprogram en tans in die finale fase van haar studies. Dié VKO-kwalifikasie, op NKR-vlak 4, stel studente in staat om as vroeëkinderontwikkelingspraktisyns met kleuters en babas te werk. Die kwalifikasie is verder ook uitstekend ingerig om aan studente wat graag verder wil studeer, die nodige onderbou te gee vir toekomstige graadstudies in die onderwys.
Marlize het pas keuring ontvang om die BEd in Grondslagfase-onderwys (Gr. R – Gr. 3) by AROS te studeer en is ook gekeur as een van die moontlike kandidate vir AROS se prestige-beurs.
Marlize het in 2024 haar studies by BKO met ‘n kursus in Tuisversorging begin, waarna sy in 2025 met haar VKO-kwalifikasie voortgegaan het. Volgens Marlize geniet sy die kwalifikasie terdeë.“Ek beveel dié kwalifikasie vir enige iemand wat die onderwyslandskap wil betree, asook iemand wat ‘n passie vir die onderwys het, aan.”
Annerie Loots (VKO-lektor) beaam dat die VKO-kwalifikasie ’n uitstekende eerste tree na verdere opleiding is, juis omdat dit vir studente ’n stewige teoretiese en praktiese grondslag in die ontwikkeling en onderrig van jong kinders bied. “Dit help die studente om die oorgang na ’n formele onderwysprogram makliker te maak en gee hulle ’n goeie begrip van vroeë kinderontwikkeling,” meen Loots.
Baie sterkte met jou pad vorentoe, Marlize! Jy maak ons sommer baie trots.