TUISVERSORGING
Bo-Karoo Opleiding bied ’n uitstekende kursus in Tuisversorging aan vir diegene wat ’n verskil in ander se lewens wil maak. Die kursus is vanaf Augustus 2022 by die QCTO geakkrediteer en staan bekend as Occupational Certificate: Home-Based Personal Care (SAQA 104792). Die Tuisversorgingkwalifikasie is ’n jaar lange kursus wat in Orania aangebied word.
Kwalifikasie
- Beroepsertifikaat: Tuisversorging, NKR-vlak 3, 135 krediete, SAQA ID: 104792
Toelatingvereistes
- Graad 12-kwalifikasie
Modules
◊ Fundamentele beginsels van tuisversorging: etiese raamwerk waarbinne versorging plaasvind.
◊ Basiese anatomie en fisiologie en siekteproses, holistiese beraming (fisies, psigies, sosiaal en geestelik) van die pasiënt, identifisering van versorgingsbehoeftes en opstel en implementering van ’n pasiëntgesentreerde sorgplan, gemeenskapgesondheidsorg en maatskaplike bepalers van gesondheid, konsepte en beginsels van effektiewe rekordering.
◊ Rehabilitasiesorg: versorging- en ondersteuningstelsel vir gestremdes, hantering van komplikasies, verwysingsnetwerke en huishoudelike probleme.
◊ Terapeutiese sorg: hantering van fisiese en emosionele ongesteldhede, basiese psigiese ongesteldhede, nie-oordraagbare siektes, oordraagbare siektes en algemene siektetoestande.
◊ Ondersteunende en palliatiewe sorg: bejaardesorg, hantering van terminale siektes en bevordering van lewenskwaliteit, beraming en hantering van pyn.
◊ Ondersoek en assessering van pasiënte, fisiese versorging soos pynbeheer, posisionering, mobilisasie, eerstehulp, ondersteuning tydens psigiese gesondheidsprobleme, versorging van kwesbare en bejaarde persone, uitvoering van basiese ondersoeke en toetse en hulpverlening met wondversorging.
◊ Tuisbesoeke, bemagtiging van pasiënte en families deur middel van onderrig in fisiese versorging, pasiëntvoorligting, deelname aan aktiwiteite en verpligtinge van die gesondheidsorgspan.
◊ Verwysing en opvolg van verwysings van pasiënte wat meer gespesialiseerde sorg benodig.
◊ Addisionele kursusse voeg waarde toe tot die basiese kursus. ‘n Kursus van Dementia SA word byvoorbeeld by die kurrikulum ingesluit.
◊ Intreevlak noodhulp
◊ Werkservaring word opgedoen in Orania se plaaslike ouetehuis en dagsorgsentrum, asook tydens tuisbesoeke in die gemeenskap. Dit sluit die versorging van bejaardes, kwesbares, babas en kleuters, en gestremdes in.
◊ Werk word onder die toesig van geregistreerde maatskaplike werkers en geregistreerde verpleegkundiges gedoen.
Opleidingsmodel
Die doel van hierdie kwalifikasie is om ’n student voor te berei om as ’n tuisgebaseerde versorger te funksioneer. Tuisgebaseerde versorgers verskaf sorg en ondersteuning – onder toesig – aan pasiënte en hul onmiddellike gesins-/huishoudingslede in die huis en in toepaslike gemeenskapsgebaseerde instellings. Klasse word in Afrikaans aangebied, maar sekere studiemateriaal word slegs in Engels uitgereik.
Die kwalifikasie in Tuisversorging is ’n jaarkursus wat uit drie komponente bestaan: teoretiese-, praktiese vaardigheids- en werkservaringmodules. Die teoretiese komponent word deur ’n ervare, geregistreerde verpleegkundige aangebied in ’n moderne en toegeruste lesinglokaal. Praktiese vaardighede word ingeoefen in ‘n simulasielaboratorium en verder verfyn deur middel van werkservaring. Die werkservaringmodules word in diens van die gemeenskap aangewend. Studente is verplig om alle kontaksessies, waartydens die lektor die voorgeskrewe teorie met hulle sal behandel, by te woon. Klasse begin daagliks 08:00 en kan met inbegrip van pouses en middagete tot 16:00 duur. Die werkservaringmodules word onder toesig van ervare personeel in Orania verrig.
Daar word van studente verwag om op ‘n deurlopende basis ‘n werksverklaring van die werk wat hulle verrig, by te hou. Die werksverklaring word gemodureer, deur QCTO wat deur HWSETA geadministreer word, wat as bewys dien dat voorgeskrewe werkservaring bereik is. Nadat die studente die eksterne eksamen geslaag het, kan hulle as tuisversorger praktiseer.
VIR WIE IS HIERDIE KURSUS?
Die kursus in tuisversorging is ideaal vir ’n persoon wat ’n sterk roeping het om ander mense te help. Die tuisversorger is ’n toegewyde persoon met goeie mense verhoudinge en kommunikasievaardighede. ’n Belangstelling in gesondheidswetenskappe en versorging is aan te beveel. Universiteits- of hoërsertifikaatvrystelling sowel as Lewenswetenskappe as skoolvak is nie ’n vereiste nie.
HOEKOM MOET JY TUISVERSORGING OORWEEG?
Tuisversorging is ’n beroep wat hoog in aanvraag is. ’n Kwalifikasie in Tuisversorging bied jou plaaslike en internasionale werksgeleenthede in hospitale, ouetehuise, aftreeoorde, pasiënte se huise, tuisversorgingsagentskappe, dagsorgsentrums; jy kan ook werk kry as ’n kinderoppasser (au pair). ’n Gekwalifiseerde tuisversorger kan ook kies om privaat versorging onder toesig van ’n geregistreerde verpleegkundige te doen.
Die kwalifikasie sal leerders verder kan voorberei vir die volwasse lewe. Die kursus dien as goeie voorbereiding vir diegene wat verpleging as beroep oorweeg.
Die registrasiefooi vir
eerstejaars vir die jaar is R2 700.
Die totale studiekoste vir
eerstejaars vir die jaar is R24 499.
* Kosteverhogings geskied jaarliks
Die student se toelating tot BKO word bepaal deur vier faktore, nl.
- TOELATINGSVEREISTES
- REGISTRASIEFOOI
- TOELATINGSTOETS
- VERBLYFREG TOT ORANIA
BKO lei roepinggedrewe tuisversorgers vir hul loopbaan op
Die hart van ‘n gemeenskap word geken aan die hande en voete wat bereid is om te dien, veral die weerlose oumense en siekes onder hulle.
Om mense te versorg is ‘n roeping. Nie net moet jy die hart hê om dit te doen nie, maar die nodige kennis en vaardighede is ook krities belangrik om seker te maak dat uitstekende sorg verleen word.
Tuisversorging as Christelike roeping
Die Christen-tuisversorger het ‘n besondere roeping voor die Here. Die Here gee in sy genade altyd gawes wat by ‘n spesifieke nood pas.
So word ek ‘n tuisversorger op vier-en-vyftig
Van baie kleins af het ek dit geniet om met bejaardes te kommunikeer en na hul stories uit hul kinderdae te luister. Min het ek geweet dat die Here toé al `n plan met my lewe gehad het.