Basiese Tuisversorging
Basiese tuisversorgers voorsien basiese fisiese en emosionele ondersteuning aan pasiënte en hul gesinne of huishouding in versorgingsinstansies en eie wonings. Hulle werk onder direkte toesig van ’n professionele verpleegkundiges.
Kwalifikasie
- Gedeeltelike kwalifikasie: Tuisgebasseerde Sorgassistent, NKR-vlak 2, 68 krediete, SAQA-ID: 104779
Toelatingvereistes
- Graad 9-sertifikaat
- 18 jaar en ouer
- Goeie lees en skryfvaardighede in Engels
- Geskikte werkplek waar werkservaring voltooi kan word
- Basiese rekenaarvaardighede
Modules
- Beginsels van tuisversorging: Inleiding tot gesondheid en welstand, etiek en kultuur in versorging, die rol van die multidissiplinêre gesondheidspan, kommunikasie met pasiënte en families, en pasiënt-gesentreerde sorg.
- Waarneming en verslagdoening in tuisversorging: Identifisering van behoeftes en probleme tydens tuisbesoeke, en samewerking met ander lede van die gesondheidspan
- Fisiese en emosionele versorging van pasiënte: Praktiese vaardighede soos posisionering, mobilisasie, pynbeheer, basiese gesondheidstoetse, basiese wondversorging, ondersteuning van kwesbare en bejaarde persone, en emosionele ondersteuning van pasiënte en families.
- Bemagtiging van pasiënte en families: Demonstreer en gee voorligting oor basiese versorgingsvaardighede sodat pasiënte, gesinne en huishoudings aktief kan deelneem aan hul eie sorg.
- Implementeer die tuissorgplan: Voorsien fisiese versorging aan tien pasiënte oor ’n periode van drie maande in ’n tuisversorgingsomgewing.
- Bevorder deelname van pasiënte en huishoudings in versorging: Aanbied van informele onderrigsessies aan pasiënte en hul families oor versorging en gesondheid.
- Bemagtig pasiënte en families: Hou tien demonstrasie- of mentorsessies oor verskillende praktiese versorgingsvaardighede.
- Verwysing en opvolg: Identifisering van behoeftes, die nakoming van die verwysingsproses en opvolgwerk met pasiënte oor die drie maande periode.
- Vaardigheidsprogram: Basiese Noodhulp (SAQA-ID: SP-230801, NKR vlak 2, Krediete 2)
Aanbieding
Fase 1: Aanlyn Teorie: Die program skop af met ’n aanlyn oriëntering. Tydens Teorie Module 1 bemeester studente die beginsels van tuisversorging in hul eie tyd op BKO se leerplatform, ondersteun deur ’n geregistreerde verpleegkundige. Hierdie fase bied al die nodige agtergrondskennis wat vereis word vir die opvolgende praktiese blok.
Fase 2: Praktiese Blok in Orania: Hierdie kontaksessies in Orania strek oor vyf weke. Die kennis wat in die aanlynmodules opgedoen is, word in ’n simulasielaboratorium toegepas en die praktiese vaardighede van tuisversorging word deeglik ingeoefen. In die laaste week in Orania lê studente die interne teoretiese en praktiese eksamens af. Studente wat nie in Orania woon nie, sal ondersteun word met kontakbesonderhede om verblyf te reël.
Fase 3: Werkervaring: Hierna volg drie maande werkervaring in die student se tuisdorp of gemeenskap, waar hulle minstens tien pasiënte onder toesig van ’n geregistreerde verpleegkundige prakties versorg. Gedurende hierdie fase stel studente ’n werksverklaring op met bewyse wat hul groei en ervaring weerspieël.
Fase 4: Registrasie en EISA-Eksamen: Indien studente suksesvol is, word hulle geregistreer vir die EISA-eksamen, wat twee keer per jaar landswyd by geakkrediteerde HWSETA-assesseringsentrums geskryf word.
tYDLYN
31 Augustus 2026 om 19:00: Aanlyn verwelkoming en oriëntering
1 September – 23 Oktober 2026: Aanlynleer op BKO se leerplatform
26 Oktober – 20 November 2026: Praktiese blok in Orania. (Maandag tot Vrydag van 08:00-16:00. Naweke is klasvry, maar kan moontlik take insluit.)
23 November 2026: Interne teoretiese eksamen
25 November 2026: Interne praktiese eksamen
26 November 2026: Voorbereiding vir eksterne eksamen
1 Desember 2026 – 27 Februarie 2027: Drie maande versorging in eie tuisdorp/gemeenskap
Registrasie vir Eksterne Integreerde Summatiewe Assessering (EISA): Datums vir registrasie en die eksterne eksamens word deur die QCTO bepaal en sal mettertyd bevestig word.
Opleidingsmodel
Die basiese tuisversorger-program volg ’n hibriede opleidingsmodel oor ses maande wat drie komponente insluit:
- Teoretiese opleiding (aanlynstudie)
- Praktiese opleiding (simulasielaboratorium)
- Werkservaring (versorging in ’n goedgekeurde werksplek)
Klasse word in Afrikaans aangebied, maar sekere studiemateriaal word slegs in Engels uitgereik.
Na suksesvolle voltooiing kan studente as tuisversorgers onder toesig praktiseer en verder studeer vir die volledige Tuisversorging-beroepsertifikaat.
** Studente wat die praktiese blok bywoon moet hul verblyf vir die praktiese opleiding in Orania self reël. Kontakbesonderhede vir moontlike verblyf sal voorsien word.
** Werkservaring word gedoen onder toesig van ’n geregistreerde verpleegkundige in goedgekeurde werkplekke waarmee BKO ’n diensvlakooreenkoms het.
VIR WIE IS HIERDIE KURSUS?
Hierdie kursus is ideaal vir iemand met geduld, deernis en ’n hart vir mense. Mense wat op praktiese vaardighede wil fokus sal baat vind by hierdie kursus. Dit bied ’n volhoubare loopbaan en ’n manier om waardigheid, ondersteuning en hoop na jou gemeenskap te bring.
HOEKOM MOET JY TUISVERSORGING OORWEEG?
◊ ’n Groeiende aanvraag vir tuisversorging: Die behoefte aan tuisversorging neem jaarliks toe, veral onder bejaardes, kinders en persone met gestremdhede. Die klem val toenemend daarop om bejaardes so lank as moontlik onafhanklik, waardig en deel van hul gemeenskap te hou. Dit skep ’n groeiende vraag na opgeleide tuisversorgers wat hierdie belangrike ondersteuning kan bied.
◊ Wye werksgeleenthede en stabiliteit: As basiese tuisversorger kan jy by ’n versorgingsinstansie, soos ’n ouetehuis, werksaam wees of privaat versorging in pasiënte se huise lewer — altyd onder toesig van ’n geregistreerde verpleegkundige. Hierdie veld bied stabiliteit, groei en betekenisvolle werk waar jy regtig ’n verskil maak.
◊ ’n Loopbaan met betekenis: Hierdie kwalifikasie bied jou die geleentheid om jou te bekwaam in ’n beroep waar waardigheid, menswaardigheid en diens aan ander voorop staan. Jy leer praktiese en emosionele versorgingsvaardighede wat jou werkspad en jou passie versterk.
◊ Selfstandigheid en vryheid: By BKO glo ons dat ware vryheid begin by die regte opleiding en die vrug van jou eie arbeid. Hierdie kwalifikasie gee jou die gereedskap om ekonomies selfvoorsienend te wees, sodat jy met trots jou eie toekoms kan vorm deur die werk van jou eie hande.
Koste-uitleg vir 2027
-
Deposito van R2 500 is vooraf betaalbaar
-
6 maande teorie- en praktiese opleiding
-
Uniform is uitgesluit
-
Verblyf (indien benodig) moet self gereël word
Die student se toelating tot BKO word bepaal deur vier faktore, nl.
- TOELATINGSVEREISTES
- REGISTRASIEFOOI
- VERBLYFREG TOT ORANIA
- VOLTOOING VAN DIE REGISTRASIEPROSES




Nuwe koshuisvoogde is vuur en vlam
Die koshuise, Die Duiker en Steenbok Herberg, het nuwe voogde verwelkom. Johan Scholtz (27) en Nadia Marais (25) sê hulle is opgewonde oor die uitdaging en sien uit om studente net so opgewonde te…
Noord-Kaap-streek bring nuwe lewe in landbou-opleiding
By Bo-Karoo Opleiding word daar gefokus op die gehalteopleiding en -opvoeding van studente. Hierdie benadering in die landboukonteks berei studente voor vir die uitdagings en vereistes…
Die toekoms van beroepsopleiding
Bo-Karoo Opleiding (BKO) is ‘n privaat, nie-winsgewende beroepsopleidingsinstelling wat deel vorm van die Solidariteit Beweging. Met ‘n aanvanklike groep van meer as 110 studente in 2023, bied die instelling ‘n unieke benadering tot opleiding wat studente blootstel aan ‘n plattelandse gevoel en ervaring…